In moontlik die eerste saak van sy soort in Suid-Afrika het ’n 33-jarige tatoeëerkunstenaar skuldig gepleit op kindermishandeling, en is sy R40 000 of twee jaar gevangenisstraf opgelê, nadat sy ’n tatoe op ’n minderjarige aangebring het.
Carolina Nagel (33) van Bothaville het op 19 September in die Welkom-streekhof skuldig gepleit.
Charmaine Labuschagne, streekhof-beheeraanklaer in die hof vir seksuele misdrywe, en ook die aanklaer wat die saak beslis het, sê Nagel het eers in haar vertoë verklaar dat sy nie daarvan bewus was dat die meisie net 15 jaar oud was nie.
Labuschagne sê egter dit was duidelik van die minderjarige en haar vriendin dat dit wel die geval was; nietemin het Nagel voortgegaan. Nagel het die kind gevra hoe oud sy was, en of sy toestemming van haar ouers het.
“Dit wys dat sy duidelik bewus was van die regulasies rondom die tatoeëer van minderjariges.
“Die kind het vir Nagel gesê haar ouers weet nie, maar tog het sy besluit om daarmee voort te gaan. Sy het vir die kind gesê sy moenie haar ouers vertel wie dit gedoen het nie,” sê Labuschagne.
Die ma van die minderjarige het onraad vermoed toe haar dogter heeltyd kouse en langbroeke gedra het. Sy het haar kind beveel om haar broekspype op te trek sodat sy haar bene kon sien. Sy sien toe dat daar ’n pandabeertjie aan die kind se enkel getatoeëer is.
“Die ouers moes R30 000 spandeer om die tatoe te laat verwyder,” sê Labuschagne.
“Ek het navorsing gedoen en gesien in hierdie geval was dit ’n oortreding van die Kinderwet, sowel as verskeie regulasies van die Gesondheidswet.
“Suid-Afrika is een van min lande met geen ouderdomsbeperking wat tatoeërwerk reguleer nie, maar volgens die Kinderwet kom die tatoeëer van ’n minderjarige neer op mishandeling, en dit maak dit ’n oortreding om enigiemand onder die ouderdom van 18 jaar te tatoeëer.