Die ANC-meerderheid van die reeds wanbestuurde Matjhabeng-munisipaliteit het ’n tariefverhoging van 15% vir water en elektrisiteit vir die nuwe boekjaar met ’n meerderheidstem afgedwing.
Susan Taljaard, VF Plus-raadslid, sê hulle het die begroting verwerp.
Dié drakoniese besluit is afgedwing deur middel van ’n stemming wat op 30 Mei tydens die raadsitting gedoen is. Dit, selfs nadat insette van die opposisiepartye gelewer is dat daar wesenlike gebreke in die begroting is.
Vista
verstaan ??dat dit in werklikheid ’n onbefondste begroting is.
“Dit is duidelik dat die regerende party meer belangstel in die roekelose besteding van openbare geld as in behoorlike dienslewering,” sê Taljaard.
Die beplande tariefverhogings sluit onder meer ’n 15%-verhoging vir water, 10% vir elektrisiteit, 10% vir vullisverwydering en 10% vir riolering in.
Piet Botha, koukusvoorsitter van die DA en finansiële portefeuljelid, het gebreke uitgelig en ’n alternatiewe begroting voorgestel, maar daar is nie gehoor gegee aan dié wekroep nie.
Botha het daarop gewys dat die begroting inderdaad onbefonds is soos bevestig is in ’n brief van 25 Mei van die departementshoof (HOD) van die provinsiale tesourie, Masechaba Sesing.
“Daar is ook daarop gewys dat die voorgestelde tariewe ver bo die verbruikersprysindeks (VPIX) was en dat die inwoners van Matjhabeng dit nie kan bekostig nie,” sê Botha.
Botha se voorgestelde tariefverhogings, van 6% op elkeen van die dienste – elektrisiteit, water, riolering en vullisverwydering – wat in al die gevalle onder die VPIX is, is verwerp.
Taljaard wys daarop dat vullis in Ventersburg soms drie weke aaneen nie verwyder word nie.
In ander gebiede hou die munisipaliteit nie by die vullisverwydering-program nie.
“Dít terwyl die munisipaliteit in die huidige finansiële jaar R120 miljoen aan vlootvoertuie bestee het om dienslewering te verbeter. Dit is skandalig vir ? munisipaliteit om sulke onrealistiese verhogings in te stel as daardie einste munisipaliteit misluk om basiese dienste, soos watervoorsiening, aan sy inwoners te lewer,” sê sy.
Taljaard voer aan die munisipaliteit het vir jare geen instandhouding en infrastruktuurontwikkeling gedoen nie.
“Belastingbetalers moet nou opdok terwyl verhogings moontlik vir bedryfskapitaal aangewend gaan word en nie vir dienslewering nie.
“Indien bestaande geld nie weens korrupsie, bedrog en swak bestuur verlore gaan nie, sal die munisipaliteit oor genoeg geld beskik om ontwikkeling en instandhouding te doen,” meen Taljaard.
“Dit is onregverdig om van inwoners te verwag om vir dienste te betaal wat nie gelewer word nie.”
Die munisipaliteit se invorderingskoers vir munisipale rekeninge is ook kommerwekkend.
Tans dra slegs 10 van die 36 wyke in Matjhabeng by tot 75% van die munisipaliteit se inkomste.
Die poel van getroue belastingbetalers word al hoe kleiner terwyl die poel van nie-betalers al hoe groter word.