Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Ná vele briewe, telefoon­oproepe en pogings tot korrespondensie is daar steeds geen aandag aan ons klagtes gegee nie.

Ons as gemeenskap van die Goudveld is nou keelvol vir al die probleme en on­verantwoordelikheid.

Die eerste burger en die bestuur van Matjhabeng is werklik geen aanwins nie. Solank hulle hulleself kan verryk, het hulle nie ’n saak met ons inwoners nie.

Daar is ’n groot probleem wat krag aanbetref, sowel as die voorsiening van water.

In Riebeeckstad brand die straatligte (dié wat nog werk) 24/7. Die sportvelde se spreiligte, wat baie krag trek, brand ook 24/7.

Hoekom? Is daar ’n rede daarvoor? Sommige strate is pikdonker in die aand, want die straatligte werk nie.

Dit is ’n probleem, want dit maak dit maklik vir diewe – en glo my, hier is baie inbrake tydens beurtkrag.

Ek het die straatlig op die hoek van Maree- en Mozartstraat in Riebeeckstad telkemaal aangemeld.

Hierdie lig is al twee jaar lank stukkend, maar elke Vrydagaand word daar in die donkerte partytjie gehou.

Die drank vloei en die reuk van dagga hang in die lug. Die musiek is kliphard en dit is jong mense, skoolkinders, wat geen respek vir ons as inwoners het nie. Ná vele klagtes gaan dit voort.

Die polisie sê hulle hande is afgekap, en ons is genoodsaak om hierdie probleme te trotseer.

Elke dag, vir maande, wei beeste in die veld langs die pad wat van Welkom na Riebeeckstad strek.

Dit is ’n besige dubbelpad, en ek vrees dat nog noodlottige ongelukke hier gaan plaasvind. Twee jong mense het al hul lewe verloor waar beeste in die pad geloop het.

Twee kindertjies is nou wees gelaat weens dié onverantwoordelikheid.

Waar is die polisie en die verkeersafdeling se beamptes wat moet toesien dat hierdie soort dinge gestuit word?

Ek het reeds Carte Blanche gekontak om te kom kyk na die toestand waarin ons inwoners van die Goudveld se alledaagse lewe is.

Rou riool stroom in strate af en ons longe word besoedel van die walglike reuk.

Riool neem die strate oor en op die Thabong-Bronville-pad na Virginia lê massas rou riool. Ek kan nie glo dat daar net mooi niks daaraan gedoen word nie.

Die eerste burger en sy kaders moet wakker skrik. Hier gaan nog cholera uitbreek.

Beeste, skape, bokke en verwaarloosde honde drink van die water, en kindertjies speel in die water en drink selfs daarvan.

Dit is ’n majestueuse gesondheidsrisiko. Waar is die gesondheidsinspekteurs?

Groot asseblief, mnr. die eerste burger en Matjhabeng se bestuur, doen die werk wat aan julle toevertrou is na die beste van julle vermoë.

Ons kyk op na julle en verwag wêreldklas-kliëntediens aangesien ons jul salarisse betaal. Julle is dit aan ons verskuldig.

You need to be Logged In to leave a comment.