Altesaam 105 dapper swemmers het vanjaar die Aldam Ysbeerswem-uitdaging aangedurf.
’n Lekker gees was aan die orde van die dag, en die Dassies-span was die mees oorspronklik aangetrek, gevolg deur die Katte, met die Farao’s in derde plek. Waardevolle pryse is uitgedeel tydens die gelukstrekkings, en braai- en kuiervure het tot laataand geknetter.
“Om 23:30 het vyf swemmers die middernagswem aangedurf in watertemperatuur van 9 °C en ’n ysige buitetemperatuur van 4 °C. Almal pronk nou met ’n medalje en geskenkpak.
“Daar is ’n indrukwekkende R6 900 deur die Rotariërs van Odendaalsrus by die hek ingesamel. Dié geld gaan vir die bejaardes en behoeftige kinders aangewend word,” sê Felix Burri, jarelange organiseerder van die Ysbeerswem.
Op 1 Julie is dit Bloemfonteiners se beurt wat in die Modderrivier by Doringbos gaan swem. Dié begin om 12:00. Doringbos is by die Krugersdriftdam, sowat 27 km langs die R64.
“Om 09:00 kom die 4×4-gesinne bymekaar om hul vermoëns op die hindernisbaan te toets. Om 12:00 sluit hulle by die ysbeerswem aan.
“Baie waardevolle gelukstrekkings en pryse is op die spel vir swemmers en bestuurders. Die waarde van die pryspakkette is ongeveer R12 000,” sê Burri.
Inskrywing vir die dagswem kos R100 en die nagswem kos R500. Verversings is beskikbaar. Toegangsgeld per voertuig is R100.
Rig navrae aan Burri by 082-851-4584.