“Dit is ‘n skandaal dat die ses dorpe wat deel is van Matjhabeng-

munisipaliteit skaars ‘n skaduwee is van wat hulle was voor die vorming van dié plaaslike entiteit.

“En veral Ventersburg loop swaar deur”, sê Manie Pretorius, VF Plus-raadslid.

Pretorius is ‘n inwoner van Ventersburg en sê dat die verval van die dorp ‘n hartseerverhaal is.

“Ventersburg gaan gebuk onder watertekorte, swak dienslewering, die paaie is vol slaggate en net ongeveer 5% van die straatligte werk. Daar is nie ‘n amptelike vullisverwerkingsgerief nie. Die naaste is Hennenman, wat ook maar net ‘n stortingsterrein is.”

Pretorius sê weens wanbetaling is die provinsiale lisensiekantoor se elektrisiteitstoevoer op 25 Mei afgesny, en geen motorvoertuig of rybewyse word in Ventersburg uitgereik nie.

Inwoners moet omliggende dorpe besoek in die hoop dat die dienste op daardie spesifieke dae gelewer sal word.

Pretorius sê die feit dat daar swak of geen dienslewering in Ventersburg is nie veroorsaak dat geen belegger in Ventersburg wil belê nie.

Daar is voortdurend ‘n rede waarom dienste nie gelewer kan word nie. Hier is Manie Pretorius (raadslid) en sy vrou, Anna-Marie, by die lisiensiekantoor in Ventersburg waar Anna-Marie al ‘n paar maande probeer om haar rybewys te hernu. Foto’s: Verskaf

“Met die afwesigheid van regulasies, asook munisipale wetstoepassers, word die bome in Ventersburg deur inwoners van Mmamahabane vernietig vir vuurmaakhout.

“Die burgemeester en waarnemende munisipalebestuurder is vir meer as twee jaar reeds versoek om in te gryp.”

Pretorius sê dat hy onlangs ingelig is oor van die plaveisel by die ongebruikte begraafplaas in Mmamahabane wat deur inwoners verwyder is en by hulle wonings gebruik is.

“Die duur brandweerstasie in Ventersburg is in onbruik.

“Die begraafplaas en brandweerstasie, tesame het

R30 miljoen van die belastingbetaler se geld, is vermors.

“Hierdie geld kon gebruik word om die die infrastruktuur in stand te hou.

“Inwoners moet betrokke raak om ons dorpe se voortbestaan te verseker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025