Ons het so ‘n rukkie gelede Paasfees gevier – die dood en opstanding van Jesus. Dit gebeur so dikwels dat ons baie meer klem lê op Jesus se kruisdood as op sy opstanding.
Ons glo maklik dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons sondes te vergewe, maar ons maak nie veel van die opstanding nie.
Dit het ook in Jesus se tyd gebeur. Lukas 24 vertel dat Jesus die Vrydag op ‘n ingrypende manier gesterf het aan die kruis. Vir baie mense wat Hom gevolg het, was dit die einde van die pad!
Lukas 24:1 sê die vroue wat Hom gevolg het, het graf toe gegaan met aromatiese olie wat hulle voorberei het. Twee van sy volgelinge het sommer dadelik begin huistoe loop om maar net aan te gaan waar hulle opgehou het toe Jesus hulle geroep het. Hulle het geglo en besluit dit is die einde. Hulle sal voortaan maar sonder Hom moet klaarkom. Hulle hoop vir die toekoms het gesterf. Hulle toekoms is nou in hul eie hande.
Ons doen dikwels dieselfde. As ‘n verhouding eindig, hou ons sommer vining begrafnis, want ons glo dit is vir altyd verby. Ek sal nou ‘n ander plan moet maak.
As ek wil aftree en die geld in my bank is te min, besluit ek sommer vining ek moet liewer aanhou werk of ‘n ander plan maak. As ek ‘n huis wil bou of koop en die kwotasie is te hoog besluit ek sommer vining dit is nie moontlik nie! As ‘n geliefde in die hospitaal opgeneem word met ‘n erge of terminale siekte begin ek in my kop reeds begrafnis hou.
Ek glo jy kan aan nog ‘n legio dinge in jou lewe dink wat vir jou soos die einde lyk en dan begin lewe jy sommer dadelik uitsigloos, sonder hoop.
Maar jy vergeet Jesus het opgestaan uit die dood! Ek glo die opstanding van Jesus is die grootste en ingrypendste ding wat nog ooit in die wêreld en die geskiedenis gebeur het. Nog nooit vantevore het ‘n leier van geloof uit die dood opgestaan om verder te lewe nie.
Moenie te vining besluit dit is die einde nie. Jou Vader weet wat jy nodig het en wanneer jy dit nodig het. Vertrou Hom.
■ Ds. Peet Louw is van die Erfdeel-gemeente in Riebeeckstad.