Drie van Welkom-Gimnasium se swemmers het puik presteer tydens die Vrystaat-swemkampioenskapsbyeenkoms van 4 tot 8 Desember in Bloemfontein.
Ashley Seymour, Xavier Korb en Shyenne Laubscher het hul hart uitgeswem en elkeen het hul persoonlike beste tyd verbeter.
Seymour het die toptien in die ouderdomsgroep 16 jaar vir meisies behaal vir rugslag (100 m), vryslag (100 m), wisselslag (400 m), rugslag (50 m), vlinderslag (100 m) en rugslag (400 m).
Sy verbeter vier van haar persoonlike tye. Korb behaal die toptien in die ouderdomsgroep 15 jaar vir seuns met sy rugslag (50 m), en verbeter vyf persoonlike beste tye.
Laubscher haal die toptien in die ouderdomsgroep 16 jaar vir meisies vir vryslag (400 m), borsslag (200 m), vryslag (400 m), borsslag (50 m), vryslag (200 m), vryslag (100 m), borsslag (100 m) en vlinderslag (50 m). Sy verbeter 11 persoonlike beste tye.
Juline Bezuidenhout Laubscher sê die swemmers het uitstekend gevaar.
“Hulle was by die swembad van 06:30 tot 20:00 elke dag vir vyf dae aaneen. Ons as ouers was bevoorreg om daar te wees.? Met God in julle hart het julle die jaar ongelooflik geëindig met al julle persoonlike beste tye,” sê sy.
Elke oggend het die gala begin met uitdunne van elke nommer. Dié wat die toptien gehaal het in hul ouderdomsgroepe, het aan die eindronde deelgeneem in die aand om hul plek in die Vrystaat te bepaal.
Daar was 17 klubs en 420 swemmers.