Lede en ouers van die Welkom Aquatics- en Welkom Super Seals-swemklub. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Welkom-swemmers is genoodsaak om hul eie gala in Bloemfontein aan te bied omdat die Matjhabeng-munisipaliteit hulle absoluut in die steek gelaat het.

Die Welkom-swembad staan leeg, en toe Welkom-swemklubs aangebied het om die instandhouding oor te neem, is hulle ingelig dat hulle dan ook die agterstallige skuld van die swembad, wat miljoene rande beloop, sal moet erf.

“Dít is nie vir ons ’n moontlikheid nie. Maar ons het toe besluit om saam te staan, en ons kon vir die eerste keer in ons plaaslike swemgeskiedenis ’n gala in Bloemfontein aanbied.

“Die twee swemklubs, Welkom Aquatics en Welkom Super Seals, het saam ingespring om hierdie droom vir hul swemmers waar te maak,” sê Jules Laubscher, een van die Welkom-swemouers.

Hulle het op 3 en 4 November saam met die Heidedal Swemklub by Bloemfontein se stadion ’n groot swemgala gehou.

“Vir so ’n gebeurtenis om plaas te vind, beloop kostes tussen R30 000 en R50 000, en die klubs het besef hulle kort hulp.

“Ouers het ingespring en na die gemeenskap uitgereik,” sê sy.

Sy sê sonder versuim, en met God se genade, het besighede die swemmers geborg en ook skenkings gedoen.

Die gala het goed verloop en 11 klubs het deelgeneem.

“Niks daarvan sou moontlik kon wees sonder al die borge nie.

“Aan ieder en elk wat die dag moontlik en spesiaal gemaak het, wil ons net uit ons hart baie dankie sê.

“Die ouers wat betrokke is by hierdie twee klubs, staan terug vir niks,” sê sy.

Die Welkom-swemmers het nie met leë hande huis toe gekom nie.

Hulle het altesaam 101 topdrie-plekke behaal, en die top swemmers, Jordan Wiesner (junior victor ludorum), Noa Mansill (junior victrix ludorum), Tristan Venter (senior victor ludorum) en Meredith O’Tool (senior victrix ludorum), is ook almal van Welkom.

Die afrigters is Christo Jansen van Welkom Aquatics en Corinne Mansill van Welkom Super Seals.

You need to be Logged In to leave a comment.