‘n Watertemperatuur van sowat 9oC, met ‘n buitetemperatuur van 17oC, word eersdaags verwag wanneer swemmers die eerste van vyf Ysbeerswem-geleenthede vir vanjaar aandurf.
Dié eerste geleentheid vind op Saterdag 28 Junie by Aldam in die Willem Pretorius-natuurreservaat in die Ventersburg-omgewing in die Vrystaat plaas. Swemmers wie so ‘n ysige gebeurtenis op hul emmerskoplys het en nie op dié dag by Aldam kan wees nie, het die winter nog vier ander geleenthede elders in die land om hieraan deel te neem.
Felix Burri, stigter van die Ysbeerswem-geleenthede wat 30 jaar terug begin is, sê reëlings verloop klopdisselboom vir dié jaarlikse geldinsamelingsgebeure ten bate van liefdadigheids- en reddingsorganisasies.
“Die veelvuldige sklerose (MS)-groep van Sasolburg gaan weer kom swem en kuier. Die doel is om bewustheid oor MS ‘survivors’ te bevorder en paar van hulle gaan weer swem.”
Tydens die geleentheid sal Search and Rescue South Africa (Sarza), die hoofbegunstigde wees uit hekgeld, wins op kosverkope, skenkings en ‘n veiling. Sarza bestaan uit vrywilligers wat tydens rampe vir reddingsaksies aangewnd word.
Burri sê swemmers van Alberton, Kathu, Bethlehem, Clarens, Odendaalsrus, Welkom, Kroonstad, Virginia, Hennenman, Winburg en Ventersburg word onder meer by Aldam verwag.
Behalwe die gesogte volkleurmedalje is gelukspryse ook op die spel. Spanne kan ook in span- of korporatiewe uitrustings deelneem en die kans staan om ‘n prys vir die beste uitrustings te wen.
Swem ook hier soos ‘n ysbeer
Op 5 Julie kan Ysbeerswemmers by Doringbos buite Bloemfontein deelneem. Die begunstigdes is Sarza, die Childhood Cancer Foundation (CHOC) en Hospice. ‘n Uitgebreide program met ander aktiwiteite word vir die dag beplan, onder meer versnelritte met landbouvoertuie. ‘n Mesgooikompetisie, in samewerking met die Bloemfontein-mesmakersklub vind plaas, asook die jaarlikse Ysbeer-baardveiling.
Op 12 Julie vind die uitdagende Ysbeerswem by Sutherland plaas. Dit is ten bate van die Johenco-tehuis vir bejaardes. Hier vind ook gewoonlik ‘n nagswem plaas vir die wat ekstra dapper is.
Op 19 Julie word daar in die see by Victoriabaai geswem, en op 20 Julie by Santos-strand by Mosselbaai. Albei hierdie geleenthede is ten bate van Sarza, NSRI en Helpende Hand.

Afhangend van die ligging van elk van die geleenthede word ander aktiwiteite ook aangebied. Talle borge en verskaffers het deur die jare betrokke geraak en bly steeds lojaal.
By elk van die geleenthede is verskillende bedrae vir hetsy toegang of inskrywing van die aktiwiteite betrokke.
Bel Burri by 082 851 4584, of besoek Polar Bear/Ysbeer swem op Facebook vir die nuutste inligting.
You must be logged in to post a comment.