Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Ons wetsgehoorsame burgers van die land is moeg vir swak dienslewering.
Riebeeckstad in die Goudveld is nou al vir etlike maande sonder ’n druppel water.
Dit is besig om hand uit te ruk.
Dit is ’n lewensnoodsaaklikheid dat water ten alle tye beskikbaar moet wees. Dit is elke burger se grondwetlike reg.
Dit is werklik ’n skande dat die Matjhabeng-munisipaliteit se bestuur en die eerste burger geen pogings aanwend om die lewe van ons Riebeeckstad-inwoners volwaardig en volhoubaar te maak nie.
Hulle is wêreldklas-kliëntediens aan ons belastingbetalers verskuldig.
Ons is in die donker oor die haglike omstandighede, want leuens word versprei oor hoekom daar nie water is nie.
Ons het gelukkig ’n boorgat en kan darem vir dors kindertjies en behoeftige bejaardes van water voorsien.
Kinders en verwaarloosde honde drink van die water wat in die strate afloop.
Dit is ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners.
Ons staatshospitale is nie op peil nie en kan nie siek mense weens ’n tekort aan medikasie en opgeleide personeel akkommodeer nie.
Deur middel van die nuus en negatiewe gesprekke word ons die oerwoud ingelei waar mense mekaar verneder en tot wanhoop dryf.
Hier vier die mens se dierlike instinkte hoogty, dit is wat nou in ons land aangaan.
Hebsug, magsmisbruik, hoogmoed, jaloesie, geweld, moord, stakings wat die reeds swak ekonomie verlam en die rand se waarde verder vernietig.
Meneer die premier van die Vrystaat, kom besoek asseblief dringend Riebeeckstad.
Kom kyk vir jouself wat hier aangaan.
Ek glo en vertrou dat u ons uit ons onaanvaarbare situasie kan red deur u stem dik te maak.
Ons het genoeg gehad van uiterse swak munisipale dienslewering.
Ons wil water so gou as moontlik terughê.