Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Hoe lank moet die inwoners van Welkom, Thabong en Bronville nog die vrot reuk van riool verduur?
Hierdie inwoners leef in haglike toestande en dit is ’n skreiende skande. Dit is nou al vir jare wat rioolpompe in strate staan.
My hart gaan uit na hulle. Hul lewe is op die spel, aangesien dit hul longe affekteer.
Die moontlikheid dat cholera kan uitbreek, is nie uitgesluit nie. Dit is ’n groot gesondheidsrisiko.
Ons staatshospitale is nie op peil nie.
Hierdie reuk word tot in die middestad geruik en restaurante ly daaronder. Net vandag het ek weer gesien hoe kinders in die staande rioolwater tussen die riete baljaar en van die water drink. Beeste en ander vee, asook honde, drink van die water. Dit is om van naar te word.
Iets sal dringend gedoen moet word aan hierdie probleem.
Ons kan net nie meer hierdie gemors verduur nie. Ons familie en vriende van ander dorpe en stede weier summier om ons te besoek.
Die Goudveld het beslis rommelstatus bereik. Dit is hartverskeurend.
Ons kla en kla, maar niks word gedoen nie.
Intussen word geld op luukses gemors, terwyl die Goudveld gebuk gaan onder armoede en probleme.
Die wanbesteding van ons belastingbetalers se geld is ’n skande.
Dit is tyd dat die premier van die Vrystaat, ons burgemeester en die res van die Matjhabeng-bestuur wakker skrik.
In tye wat leierskap ontbreek, kom die samelewing tot stilstand.
Vooruitgang vind plaas as dapper, bekwame leiers die geleentheid aangryp om dinge ten goede te verander.
Ons soek dringend bekwame leiers. Ware leiers is gewone mense met buitengewone vasberadenheid.