Novus Media

Suid-Afrika se krisis met bestuurslisensie-agterstand verdiep terwyl verouderde drukker aanhou faal

Motorbestuurders steier steeds onder die las van die verouderde, en dikwels stukkende, nasionale bestuurslisensiekaart drukker.
Suid-Afrikaanse motorbestuurders steier steeds onder die las van die verouderde, en dikwels stukkende, nasionale bestuurslisensiekaart drukker.

Suid-Afrika se stelsel vir bestuurslisensies is steeds in ’n krisis gedompel. Die departement van vervoer erken dat hulle geen duidelike strategie het vir die verkryging van nuwe drukmasjiene vir die bestuurlisensiekaarte nie, sodat die land se enigste drukker, wat reeds 26 jaar oud is en voortdurend breek, vervang kan word nie.

Die departement het tydens ’n parlementêre vraag-en-antwoordsessie hierdie week onthul dat 733 000 bestuurslisensiekaarte nog gedruk moet word, met slegs 14 500 kaarte wat verwerk is sedert die verouderde masjien weer in Mei herstel is.

Net nadat die drukker, wat sedert Februarie weens ‘n meganiese fout buitewerking was, in Mei sy werk hervat het, was die landswye agterstand 747 500 kaarte.

Verouderde infrastruktuur eis sy tol

Die krisis met die land se drukkersinfrastruktuur het kritieke vlakke bereik, met die enkele operasionele masjien wat reeds minstens 160 onderbrekings gedurende sy operasionele leeftyd gehad het. Dit het ál meer gereeld gebeur hoe ouer die masjien geword het en duisende Suid-Afrikaners is sonder bestuurslisensies gelaat.

Volgens departementele data was die masjien vanjaar vir 38 werksdae buite werking en was daar ’n totaal van 129 dae tussen 2022 en 2024 waarin daar nie kaarte gedruk kon word nie.

Die finansiële impak was aansienlik, met herstelwerk wat die departement R12 miljoen gekos het, terwyl ’n bykomende R4,4 miljoen bestee is aan oortydbetalings om te vergoed vir verlore tyd.

Die burgerlike aksiegroep, die Organisasie vir die Opheffing van Belastingmisbruik (Outa), het bereken dat die drukker slegs tussen 14 000 en 19 000 kaarte tydens ’n 14-uur skof kan verwerk. Teen hierdie koers sal dit 40 tot 53 werksdae neem om die huidige agterstand uit te wis, indien geen nuwe aansoeke bygevoeg word nie.

Foto: Arrive Alive

Onsekerheid skep ‘n oponthoud

Die verkryging van nuwe druktoerusting is opgeskort hangende ’n bevel van die howe. Minister Barbara Creecy se vervoerdepartement is onseker oor die regsimplikasies wat dit vir hulle inhou.

Die plan was om die lisensiëringstelsel te moderniseer met drie nuwe drukers wat in staat is om opgedateerde, veiliger kaarte te produseer. Anders as die huidige toerusting, sou hierdie nuwe masjiene plaaslik onderhou en herstel kan word eerder as om oorsee versend te word vir herstelwerk.

Die tenderproses het egter in duie gestort ná die Ouditeur-Generaal onreëlmatighede opgetel het. ’n Kontrak van R900 miljoen wat aan ’n maatskappy toegeken is, is later teruggetrek na aanleiding van die ondersoek.

In Maart vanjaar het Minister Creecy aangekondig dat haar departement ’n verklarende bevel van die hooggeregshof sal vra vir leiding oor hoe om met die tender voort te gaan in die lig van die Ouditeur-Generaal se bevindinge. Die departement het gesê dat hierdie stap nodig was om verdere onreëlmatige uitgawes te voorkom, maar die hofbevel is nog nie uitgereik nie.

Alternatiewe oplossings verwerp

Belanghebbende organisasies het tussentydse maatreëls voorgestel om die voortdurende krisis aan te spreek, soos om bestuurslisensie se geldigheid van vyf na tien jaar te verleng of om ’n digitale lisensiëringstelsel te implementeer. Die regering het egter beide voorstelle verwerp.

Outa het die departement daarvan beskuldig dat hulle met die huidige stelsel voortgaan omdat dit inkomste genereer. Die agterstand skep ‘n bykomende inkomstestroom omdat aansoekers aangemoedig word om teen ekstra koste vir tydelike lisensies aansoek te doen terwyl hulle vir hul permanente kaarte wag.

Die organisasie voer aan dat hierdie alternatiewe oplossings onmiddellike verligting sou bied terwyl die tenderproses opgelos word, maar dat die departement verbind bly aan die huidige situasie ten spyte van die ooglopende tekortkominge.

Foto: Arrive Alive

Suid-Afrikaners dra die koste

Die voortdurende krisis beteken dat gewone Suid-Afrikaners wat geldige bestuurslisensies vir werk en daaglikse aktiwiteite benodig die spit afbyt. Talle moet noodgedwonge tydelike bestuurspermitte koop terwyl hulle maande wag vir hul permanente kaarte. Dit skep ‘n bykomende finansiële las gedurende ’n reeds uitdagende ekonomiese tydperk.

Voortdurende vertragings en onsekerheid blyk Suid-Afrikaners se voorland te wees, met geen tydsraamwerk wat verskaf is vir óf die hof se verklarende bevel óf die oplossing van die tenderproses nie.

Die departement van vervoer het nie aangedui wanneer hulle verwag om duidelikheid van die howe te ontvang of hoe hulle beplan om die groeiende agterstand in die tussentyd te bestuur nie.

You need to be Logged In to leave a comment.