Maer vleis met ’n hoë voedingswaarde maak van die sebra dalk ’n goeie opsie vir die volgende braai.
’n Studie van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Queensland in Australië het bevind dat sebras sterk potensiaal toon om vir vleisproduksie gebruik te word, veral in Suid-Afrika en sy buurlande.
Omdat sebras reeds aangepas het in droë toestande en op weiding van lae gehalte kan oorleef, is hulle ’n goeie kandidaat vir boerdery met gemengde spesies, lui ’n artikel in die vaktydskrif Animals.
Daarby is die dier weerstandig teen bek-en-klouseer.
Dit is saam met volstruis en krokodil drie van die hoofsoorte wildsvleis wat tans na die Europese Unie (EU), China en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) uitgevoer word.
Die studie bied ’n grondslag van inligting oor die karkas-, afval- en spieropbrengs van bontsebras wat in die winter en somer op twee plekke in die Wes-Kaap gejag is.
Daar is benadruk dat meer navorsing nodig is oor die gehalte van sebravleis en die volle potensiaal vir vleisproduksie, ekonomiese lewensvatbaarheid en volhoubaarheid.
Ander fasette wat ondersoek moet word, is die invloed van die seisoen, ouderdom en geslag van die dier op die produksie van sebravleis.
’n Aansienlike opbrengs van eetbare byprodukte (afval) en ’n hoë opbrengs aan spiermassa dui daarop dat die sebra ’n nuttige bron van proteïen kan wees.
Volgens die navorsers kan sebras vanweë hul groot liggame en aanpasbaarheid by verskeie omgewings ook kommersieel lewensvatbaar wees. Die hingste weeg gemiddeld van 220 kg tot 322 kg en die merries van 175 kg tot 250 kg. Suid-Afrika produseer reeds onvoldoende proteïen om sy inwoners te voed en die gebruik van ander plaaslike bronne kan luidens die studie moontlik help om voedselsekerheid te verbeter.
Die konsepstrategie vir wildsvleis in Suid-Afrika wat in Julie in die Staatskoerant verskyn het, noem dat net meer as 3 000 ton wildvleis in 2019 na die EU, China en die VAE uitgevoer is.