Alta Pienaar, wat 15 jaar lank die nasionale bloeddiens in die Goudveld bestuur het, is op 16 Januarie oorlede.

Pienaar was bekend vir haar betrokkenheid in die gemeenskap, en sy was die dryfkrag agter groot veldtogte in die Goudveld.

In haar tyd by die bloeddiens (SANBS) was sy bekend vir haar vindingrykheid om met opwindende projekte in die streek bloed in te samel. Sy het byvoorbeeld die Jail ’n Bail-projek begin.

Sy was ook die dryfveer van talle gholfdae en bloedskenk­veldtogte by skole, die Welkom-vlooimark, winkelsentrums, kerkbasaars en ander geleenthede oor die Goudveld heen.

Pienaar en haar seun Wynand, ’n kanker­oorwinaar en ’n bekende in Griffon-rugbykringe, het die kanker-aflos in Welkom gedryf. Wynand was die beskermheer en sy die organiseerder.

Voor haar tyd by die bloeddiens was sy 11 jaar lank by Mediclinic Welkom, en nog vroeër het sy tien jaar by die Ernest Oppenheimer-hospitaal gewerk.

Vir die afgelope twee jaar was Pienaar die bestuurder van Welkom Square.

Pienaar was boonop ’n gesogte beoordelaar by skoonheidskompetisies oor die Vrystaat heen.

Sy het ’n ereplek op die beoordelingspaneel van die destydse Vista Mej. Goudveld-skoonheidswedstryd beklee, asook dié van die Vista Spontaan-sang­kompetisie.

Pienaar was aktief betrokke by liefdadigheidsorganisasies soos Goldfields Hospice en die Rotary-klub.

Sy laat haar man, Riaan (bekend as Pine), haar twee seuns, Riaan en Wynand, hul vroue, Judiet en Marianne, en drie kleinkinders, Driaan (8), Lirize (6) en Leah (3), agter.

Pienaar is Saterdag (21/01) uit die NG kerk Welkom-Wes begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.