Die uitdrukking “Jesus is Here” word as die oudste belydenis in die kerk beskou. Christene het getuig dat Jesus hul God is. ’n Getuienis is ’n geleentheid om in jou geloof versterk te word.
Die mens ervaar dikwels moeilike tye in sy leeftyd. Om staande te bly, help dit om van die grootheid en almag van die Here te getuig.
Paulus skryf in Romeine 10:9: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
Die gemeente in Rome was bang en het in onsekerheid geleef. Hulle het gemeen hulle word onregverdig behandel. Hulle, as Christene, word oral in die stad uitgeskuif. Daarom die oproep van Paulus: Bely jul geloof en word sterk.
Thomas die twyfelaar se lewe word in die teenwoordigheid van die Here ’n lewende getuie in Johannes 20:24-29. Thomas roep uit: ”My Here en my God”.
Thomas se getuienis help elke gelowige wat vir ’n oomblik kan twyfel om sterk in jou geloof te word. Ons getuig te min van wat die Here in ons lewens al gedoen het want ons aanvaar alles as net vanselfsprekend. Moet nie vergeet dat jy aan die Here behoort nie.
Ons leef vandag saam met die Antichris wat rondloop soos ’n brullende leeu en mense word verwar met fopnuus en wil met mensekennis die almag van God bevraagteken.
Dit is juis nou nodig dat ons moet getuig dat die Here leef. Hy het opgestaan en Hy leef in my.
) Heidi McLaren
is jeugleraar
aan die NG kerk Bedelia.