Stel vertroue in alwetende God en wag op die vervulling van sy Woord

Ons mense hou van sekerheid. Ons wil weet wat môre inhou. Ons wil weet wat wag vir ons in die toekoms. Ons hou nie van verrassings wat ons lewe betref nie.

Foto:


Ons mense hou van sekerheid. Ons wil weet wat môre inhou. Ons wil weet wat wag vir ons in die toekoms. Ons hou nie van verrassings wat ons lewe betref nie.

Daarom is die toestand in ons land en ons dorp vir ons ’n redelike groot nagmerrie.

Ons kan dit nie meer beheer nie. Niks werk meer soos ons dit wil hê nie. Dalk het jy op ’n stadium gemeen alles gaan regkom as daar net ’n nuwe bewind kom; of dalk hoop jy die verkiesing wat om die draai is, bring uitkoms. Dalk wonder jy wat het geword van al die beloftes wat God in sy Woord gemaak het dat Hy vir ons sal sorg en ons beskerm.

Ons mense sukkel dikwels om God sommer net op sy Woord te vat en te aanvaar dat Hy by ons is.

Ons wil hê God moet meer doen. Ons wil vooruit weet wat môre gaan gebeur, maar dit is ongelukkig nie geloof nie.

Hebreërs 11:1 sê geloof is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop; ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

Dalk was dit nooit God se bedoeling dat ons seker moet wees van die toekoms of van môre nie. In Jakobus 4:13-15 sê die Here: Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

Luidens Job 12:10 is ons hoop vir die toekoms nie dat ons weet wat gaan gebeur nie, of dat ons kan beheer wat môre gebeur nie. Ons hoop is dat alles wat lewe van God afhanklik is, dat elke enkele mens vir sy of haar asem van die Here afhanklik is.

Iemand het gesê: “We live in the not knowing, because we know the All Knowing”.

You need to be Logged In to leave a comment.