Die Matjhabeng-munisipaliteit het met ’n kritieke situasie te kampe met die voortslepende staking deur die Suid-Afrikaanse Munisipalewerkersunie (Samwu) wat nou sy derde week betree.
Die wydverspreide ontwrigting van dienslewering veroorsaak swaarkry vir inwoners.
Die staking, wat op 29 Januarie begin het, het tot ernstige tekorte aan water en elektrisiteit gelei, wat inwoners dae aaneen sonder noodsaaklike dienste gelaat het.
“Rioolprobleme het toegeneem, met riool wat vrylik in die strate in sommige gebiede vloei en ernstige gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap inhou.
“Vullisverwydering is erg geraak, en het daartoe gelei dat vullissakke in strate ophoop. Dit trek diere en mense wat die vullissakke skeur, en daar is ondraaglike reuke,” sê Maxi Badenhorst, DA raadslid.
Verder kan inwoners wat op gedrukte rekeningstate staatmaak, nie toegang daartoe kry nie aangesien munisipale kantore gesluit bly weens die staking.
“Ondanks pogings om terugvoering te gee en dringende kwessies aan te spreek, was sleutelamptenare, insluitend die munisipale bestuurder, grootliks onbeskikbaar.
“Direkteure en bestuurders wys navrae af, wat die gebrek aan kommunikasie en koördinasie binne die munisipaliteit vererger,” sê sy.
Die staking het ook gelei tot voorvalle van infrastruktuursabotasie en vandalisme, wat pogings om die krisis op te los, verder bemoeilik.
Te midde van hierdie situasie het die munisipaliteit gepoog om ’n interdik te bekom om werkers te verplig om terug te keer werk toe, maar Samwu hou vol dat die staking wettig is en weier om terug te staan.
“Onderhandelinge tussen die partye het nog geen positiewe uitkoms opgelewer nie. Een van die primêre eise van die stakende werkers is die bedanking van burgemeester Thanduxolo Khalipha, wat gekritiseer is omdat hy werkers minag en by die administrasie van die munisipaliteit ingemeng het.
“Sy afwesigheid tydens die krisis, insluitend sy besluit om na Kaapstad te reis vir die staatsrede, is ’n duidelike boodskap dat hy geen belang het om die krisis in sy eie munisipaliteit op te los nie,” sê Badenhorst.