Jan Bezuidenhout, Welkom:

Ek rig hierdie skrywe aan die uitvoerende burgemeester van Welkom, Thanduxolo Khalipha, aangaande die verkope wat plaasvind op openbare grond in en om Matjhabeng.

Graag wil ek aan u ’n paar vrae vra. Besighede word gedagvaar indien hulle nie krag, water en erfbelasting betaal nie, maar daar word toegelaat dat onder andere die verkoop van voertuie op parke en sirkels bedryf word, en voertuie word verkoop sonder dat die verkopers betaal vir die gebruik van dié openbare gronde. Amptelike besighede moet huurgeld of verbande betaal.

Dit voel vir my asof almal nie oor dieselfde kam geskeer word nie en dat munisipale kantoorpersoneel dit toelaat of nie wil raaksien wat hier gebeur nie.

Ek voel dat almal regverdig behandel moet word. Mense wat motors op die sirkels en parke verkoop moet ’n registrasiefooi van R150 per voertuig betaal. Hierdie persone wat met tweedehandse motors handel dryf moet ook dan by die polisie registreer.

Ek wil ’n voorstel maak. Kan ek nie die parke en sirkels omploeg en mielies vir almal daar plant om gratis te pluk nie? Beeste is juis volop in ons strate, Matjhabeng lyk nes ’n groot beeskraal.

Ek sal dit waardeer indien u op die saak sal ingaan en hanteer sodat ons ’n verskil kan sien.

You need to be Logged In to leave a comment.