Staatmaker in onderwys kry groot lof

Sy het ’n hart van goud en is toegewyd aan haar skool, haar leerlinge en haar werk.

Juffrou Helené Rossouw (middel) van Welkom-Gimnasium is as die Solidariteit- nasionale hoërskoolonderwyser van die jaar aangewys.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Sy het ’n hart van goud en is toegewyd aan haar skool, haar leerlinge en haar werk.

Juffrou Helené Rossouw van Welkom-Gimnasium (Gimmies) is die toonbeeld van die Solidari­teit- nasionale hoërskoolonderwyser van die jaar.

“Die eerbewys is ’n geweldige eer en ’n bevestiging van my lewenswerk,” sê Rossouw.

Haar opwindende reis in die verwerwing van dié gesogte, landwye eerbetoon het begin toe een van haar matriek-leerlinge, Karla Coetzer, haar benoem het.

Dít is gevolg deur die tweede ronde. In hierdie stadium het 168 leerlinge en onderwysers aan die skool haar benoem.

Sy het toe na die eindronde deurgedring en was onder die tien topbenoemdes.

In dié fase is Rossouw deur ’n nasionale paneel van onderwysspesialiste en eweknieë in haar veld beoordeel. Sy moes ook ’n video-opname wat aspekte van haar werk en lewe weerspieël, vir die beoordeling beskikbaar maak. Rossouw was die enigste hoërskoolonderwyser van die Vrystaat onder die tien topbenoemdes.

In die eindronde het Rossouw 699 stemme landwyd verwerf.

“Oudleerlinge, kollegas, vriende en familie se kommentaar op Facebook het my laat besef wat ek oor my 20 jaar by Welkom-Gimnasium in die lewe van my kinders verander het.”

Van die kommentaar het gekom van leerlinge van 2003, toe sy by Welkom-Gimnasium begin het.

Rossouw is die vakhoof van verbruikerstudie vir gr. 10, gr. 11 en gr. 12. Sy werk ook by die Hoërskool Hentie Cilliers (Henties) in Virginia.

“Ek doen baie welsynwerk in my gemeenskap en ek gee ook klas in die townships. Ek is betrokke by die skool se voedselproduk en ek is ook ’n tuisonderrig-assessor.

“My grootste projek is egter die skool se jaarlikse Valentynsbal, iets waarop ek baie trots is,” sê sy.

“Kook is ’n groot deel van my alledaagse lewe. Vanjaar het ek al 506 uur by Gim en Henties gekook, en dan praat ek nie eens van my ander projekte en my eie huis se gekook nie.”

Rossouw se leerlinge neem gereeld aan eksterne wedstryde deel, waarvan die grootste die jaarlikse Food Beverages Institute- (FBI) kompetisie is. Vanjaar was nege van haar leerlinge onder die tien topdeelnemers en Gimmies was algeheel tweede.

“Ek het in my lewe al baie hindernisse beleef. Maar dit is dié lewenslesse wat my gemaak het. Die lewe slaan vir jou plat, dit is hoe jy opstaan. Ek is wie ek is.”

Rossouw sê haar man, Gawie, is haar regterhand, haar linkerhand, haar alles. Hy ondersteun haar onvoorwaardelik.

“Ek is baie dankbaar vir my kollegas se ondersteuning en hulp, en dat ek al 20 jaar deel kan wees van die Gimmie-familie. Maar alles wat ek doen en wat ek regkry is deur God se genade; en as dit nie vir God was nie, sou ek nie staan waar ek nou is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.