‘n Jong ontluikende hokkiespeler van Welkom, Rihane Liebenberg (17), het onlangs teruggekeer ná ‘n suksesvolle toernooi in Italië.
Liebenberg, ‘n gr.11-leerder aan die Goudveld-Hoërskool, is gekies vir die SS Rhino-hokkiespan wat van 30 November tot 9 Desember getoer het. Sy is tydens een van die wedstryde in Italië gekies as speler van die wedstryd.
Haar hokkie-loopbaan het reeds in gr. 1 begin toe sy ‘n leerder by Primêre Skool Naudeville was. In gr. 5 is sy gekeur om vir die skool se eerste hokkiespan te speel, en sy word vir die Lejweleputswa-span gekies.



In 2022, in gr.8, is sy weer vir Lejweleputswa-hokkie gekies. Sy is verder bevorder en is vir die Noord-Vrystaatse span gekies. Ook in 2022 is Rihane vir die Elsie Coetzer Hockey School (ECHS) se span gekies en hulle toer na Nederland.
In 2023 het sy die eerste keer vir die Goudveld-Hoërskool se eerstespan gespeel. In 2024 het sy weer Noord-Vrystaat-keuring behaal en is sy weer vir die skool se eerste span gekies.
Rihane is weer in 2025 vir die Lejweleputswa-hokkiespan gekies, en keuring vir die Noord-Vrystaatspan volg. Dit was op Noord-Vrystaat-vlak dat sy raakgesien is en gekeur is om na Italië te gaan.
Sy sal graag eendag ‘n kontrak in Italië kry om vir hulle hokkie te speel.






You must be logged in to post a comment.