Matriekuitblinkers van oor die land heen moet nou vinnig spring om hulle vir die 42ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad in te skryf.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie vir voornemende Kovsies is op Vrydag 4 Augustus.
Die kompetisie, waarin veelsydige toppresteerders vereer en beloon word, bied prysgeld en beurse ter waarde van derduisende rande. Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-Trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, en die eindronde-geleentheid in Oktober in Bloemfontein en geskenke ter waarde van R10 000.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.
Matrikulante wat op akademiese gebied presteer, en ook by sport, leierskap en kultuur by hul skool betrokke is, kan hulle inskryf.
Leerlinge se gemeenskapsdiens en -betrokkenheid word ook tydens die finale beoordeling in ag geneem.
Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Dit is ’n vereiste dat die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel op die vorm aangebring moet word.
Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel. Tydens die eindronde word onderhoude met die finaliste gevoer en neem hulle aan spansessies deel waarna die wenner aangewys word. Hulle kry ook die geleentheid om saam met verlede jaar se finaliste te kuier.
Twee spesiale pryse van R5 000 elk word geborg deur die Kovsie Alumni-Trust en sal toegeken word vir uitstaande prestasie op die gebied van leierskap, akademie, sport of kultuur.
Die beurse en prysgeld word betaal sodra die student hom of haar aan die UV geregistreer het.
Vir inskrywings of meer inligting, stuur e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.