Welkom-Gimnasium (Gimmies) is een van slegs twee Vrystaatse skole waarvan die eerste rugbyspan genooi is na die 2023 Wildeklawer-toernooi wat in Kimberley by die Hoërskool Diamantveld aangebied is.
Altesaam 20 topskole van oor Suid-Afrika heen het die afgelope langnaweek meegeding. Deelnemende skole word op grond van hul sportprestasie genooi om deel te neem.
Die Gimmies het twee wedstryde gespeel. Met die eerste wedstryd Saterdag (29/04) teen die Hoërskool Framesby van Port Elizabeth (Gqeberha), het hulle met 54 – 19 gewen, maar daarna het hulle met 16 – 17 teen Glenwood High School van Durban verloor. Dit was ’n naelskraap-wedstryd, en Glenwood het met ’n strafskop in ekstra tyd ná die eindfluitjie gewen.
Gimmies se regtervleuel, Navan Goeda, is Saterdag as die beste agterspeler van die dag aangewys en het Puma-tokse ter waarde van R5 000 gewen.
Goeda het boonop ’n driekuns in sy span se oortuigende sege teenoor Framesby behaal. Hy is hierna as man van die westryd aangewys.
Sy drie om die driekuns te voltooi het op skouspelagtige wyse gekom nadat speeltyd reeds verstreke was. Die Gimmies is ’n strafskop 10 m vanaf hul doellyn toegeken en die skrumskakel, Rewaldo Farmer, het met ’n skop oor die kantlyn die wedstryd beëindig.