- Jan gaan 1 200 km op ‘n swart Fat-fiets met 4 -duim-bande aanpak
- Hy is bekend vir sy Hanfjie Vol-projekte
- Tot op hede het die groep meer as 13 ton teer gebruik om slaggate te herstel
_________________________________________________________________________________________
Jan Jacobs het in die Goudveld bekend geword vir sy onbaatsugtige werk om die omgewing en die paaie in die streek in stand te hou.
Jacobs gaan nou op ’n swart Fat Planet-fiets met 4-duim-bande die 1 200 km na De Aar en terug op grondpaaie aandurf.
Dié fiets is deur ’n plaaslike fietsgroep spesifiek vir Jacobs se Langpad na De Aar-veldtog omgeskep.
Hy het Dinsdag (01/08) die pad na De Aar aangepak.
“Ek beoog om geld vir die gemeenskap en die Handjie Vol-projekte in te samel,” sê hy.
Jacobs het bekend geword toe hy in 2019 met sy Move One Million-groep Odendaalsrus begin skoonmaak en opknap het.
In 2021 het sy groep onder die naam Handjie Vol bekend geword.
Dié groep het die slaggate in die omgewing van die R30-pad by Odendaalsrus, die R70-pad tussen Odendaalsrus en Riebeeckstad en die Phakisa-pad begin regmaak.
Tot op hede het die groep meer as 13 ton teer gebruik om slaggate te herstel.
Hierdie veldtog is begin ná ’n noodlottige ongeluk op die Bundu-pad tussen Odendaalsrus en Riebeeckstad.
Jacobs sê sy hart lê by sy gemeenskap en die mense wat hier woon. Hy het ook ’n weeklikse vlooimark in Odendaalsrus begin, waar mense hul handgemaakte artikels en tuisgebak kan verkoop.
In samewerking met ’n groot kettingwinkel in dié dorp het hulle ook die parkie in die sentrale sakekern en die omgewing opgeruim.
Plasings oor sy vordering in die Langpad na De Aar-veldtog word op die sosiale media gedoen, en mense wat belangstel kan na sy Facebook-blad gaan om die vordering te moniteer en geldelike bydraes te maak.