Die Griffons se o.21-span het sy plek in die eindronde van die reeks met ’n oortuigende oorwinning bespreek.
Die span het Saterdag (08/10) die jong Olifante van die Baai met 52 – 10 afgeransel, nadat die rustydtelling reeds 21 – 3 in sy guns was.
Aanvanklik het die tuisspan swaar gekry in die skrums en is ’n hele paar keer gestraf, maar toe die voorspelers hul ritme gevind het, het hulle die besoekers voos geskrum.
Die losvoorspelers Calla Pienaar, Jared Kruger en Mingo Piti het op die aanval en verdediging geskitter, en Wian Muller en Ashley Jegels het in die lynstane en met kraglopies beïndruk.
Agterlangs het Brian Bayer, Benni Human, Randy Fillies en Ricky Niemand uitgeblink.
Die ster in die Jong Perses-span was die heelagter, Donovan Don, wat sy soveelste afgeronde vertoning gelewer het.
Die jong Suid-Afrikaanse speler het ’n vyfstervertoning op aanval en verdediging gelewer. Hy het ook 25 van sy span se punte aangeteken, met ’n drie, vier doelskoppe en vier strafskoppe.
Human, Pienaar, Fillies, Niemand en Nazro Cleophas het elk ’n drie gedruk, en Human het ook met ’n doelskop geslaag.
Saterdag (15/10) kom die Griffons in die eindronde van die o.21-liga teen die o.21-Valke te staan.
Die Valke het die SWD Arende in hul halfeindronde-kragmeting met 60 – 13 vermorsel.
In die ligafase het die Jong Perses die Valke met 30 – 16 getroef.
Afskop in die eindronde in die HT Pelatona Stadion is Saterdag om 14:00.
Al is Calla Pienaar se span dalk die gunsteling om te wen, moet hulle nie te gerus wees en die Valke onderskat nie.
– Chris Krause