Jan Jacobs van Odendaalsrus en sy span vrywilligers het sedert die begin van Julie met net R25 000 altesaam 57 km op paaie en meer as 200 slaggate in die streek reggemaak. Foto: Verksaf


Die Move One Million-beweging van Odendaalsrus het sedert Julie met R25 000 altesaam 57 km op paaie en 200 slaggate reggemaak.

Dit sluit in die Phakisa-pad van Odendaalsrus tot Welkom (12 km), die Bundu-pad tot by Riebeecstad (10 km), en die Bothaville-pad, van Allanridge tot anderkant Welkom (35 km).

Jan Jacobs en sy span vrywilligers het ook in Odendaalsrus sowat 200 slaggate reggemaak.

“Nie net is my span toegewyd nie, maar ons kon met min geld berge versit.”

Hier verwys Jacobs na die voorblad van ’n nasionale koerant waarop grafieke die koste verbonde aan werk verrig deur boere in vergelyking met dit van die regering toon.

Die grafieke wys die boere het 550 slaggate oor 30 km binne 8 dae teen R75 000 reggemaak.

In teenstelling het die regering 575 slaggate oor 25 km oor ’n tydperk van 117 dae teen R3 miljoen reggemaak.

“Ons het dubbeld die aantal gate en afstande reggemaak met minder as ’n derde van die geld. Ons statistieke wys ook dat sedert Julie, toe ons begin regmaak het, daar geen motorbande verloor of ongelukke gemaak is weens slaggate op die paaie tussen Odendaalsrus en Welkom nie,” sê Jacobs.

Hy sê bydraes tot hul fonds was R10 000 van Afriforum vir teer, en JW Plant Hire het ’n soortgelyke bedrag vir die Bundu-pad se teer geskenk.

“Die res van die geld was ingesamel van die publiek, en padgebruikers,” sê Jacobs.

“Ek probeer om teer vir die tronk-pad geborg te kry. Die ander koste, soos vir vervoer, materiale, handewerk en gereedskap, kom uit my eie sak,” sê Jacobs.

You need to be Logged In to leave a comment.