Die Griffons se o.21-span het op 3 September in die HT Pelatona-stadion ’n bonuspuntsege van 65 – 15 oor die Baba Olifante (OP) behaal.

Teen rustyd het die Perstruie met 32 – 8 voorgeloop.

Met spoed en vernuf het die tuisspan die OP-verdediging aan flarde gehardloop. Agt van die Griffons se nege drieë is deur die agterspelers gedruk.

Elke spanlid het werklik presteer. Selfs toe reserwes op die veld gedraf het, was die vloei en ritme nie versteur nie.

Calla Pienaar het ’n puik wedstryd gespeel, en Benni Human en Donovan Don het albei in die agterlyn uitgestaan.

Punte: Drieë – Human 2, Curnall Pekeur, Matthew Fortuin, Randy Fillies, Don Donovan, Duncon Edwards en Ricky Niemand. Doelskoppe – Human 3, Don 4 en 2 strafdoele.

You need to be Logged In to leave a comment.