Die Griffons se o. 21-span het Saterdag (15/10) in die liga-eindstryd die SA Rugby-skild gewen. Hulle het die Valke in ’n klipharde en spanningsvolle stryd met 24 – 26 geklop, nadat hulle rustyd met 16 – 10 voor was.
Donovan Don was weer die groot held en het 19 van sy span se punte aangeteken, met ’n drie, ’n doelskop en vier strafdoele.
Calla Pienaar het die ander drie gedruk in ’n ware kaptein-wedstryd, wat hy met voorbeeld gelei het. Hy het sterk lopies ingekry en was verwoestend op die verdediging.
Die hele span het vir mekaar gespeel en op die aanval en verdediging goeie werk gedoen.
Die span het sedert sy ontstaan nog nooit ’n wedstryd in die o.21-liga verloor nie. Jacques Juries en sy afrigtingspan kan met reg breed glimlag. Dit is nie baie unies wat kan spog dat sy afrigter met die senior en o.21-span die seisoen onoorwonne kan afsluit en met ’n beker en ’n skild in die trofeekas kan spog nie.
– Chris Krause