Die jong leeuwyfie wat uit die Tara Wildlife/HART rehabilitasiesentrum by Ventersburg ontsnap het, is ná vier dae steeds soek.
Sy het Vydag (23/09) omstreeks 04:00 tydens beurtkrag deur ’n beskadigde elektriese heining uitgekom.
Sy is Maandag in die omgewing van Winburg gesien.
’n Helikopter van natuurbewaring is Dinsdag gebruik om na haar te soek, maar tevergeefs.
Thea Smit, voorsitter van die Virginia en Bloemfontein DBV, sê sy is bekommerd dat die leeuwyfie nog nie gevang is nie.
Die leeuwyfie is Maandag naby Dampoort deur ’n jong seun gewaar.
Smit het oor die naweek op facebook geskryf die leeu is naby die grens van die Willem Pretorius-wildreservaat (in die riging van Winburg), etlike kilometers van waar sy uit Tara in Ventersburg ontsnap het, gesien.
Sy sê dit is die tweede leeuwyfie waarvan hulle bewus is, wat binne ’n maand in dié omgewing ontsnap het.
Inwoners word gemaan om versigtig te wees en indien iemand die leeu sien, dit by die SAPD se Stop Misdaadnommer 08600 10111 aan te meld.
Die polisie van Ventersburg is ingelig oor die een jaar oue leeuwyfie wat ontsnap het toe die wildlewe-omheining as gevolg van beurtkrag nie gewerk het nie. Tara is ongeveer 5 km vanaf Ventersburg in die rigting van Virginia.
Die soektog is begin en naburige polisie-eenhede is gevra om te help soek. Natuurbewaring is ook deel van die soektog.
Teen Dinsdagmiddag was sy nog op vrye voet.