’n Soektog na sewe onbekende mans is geloods nadat ’n substasie naby Winburg van koperkabel beroof is.
Op Woensdag 20 September omstreeks 22:00 was twee veiligheidswagte aan diens toe die deur van die wagkamer oopgeforseer is.
Sewe onbekende mans met vuurwapens het die kamer binnegekom. Die wagte is toe opdrag gegee om nie te beweeg nie, en vasgebind.
Twee mans het by hulle gebly, terwyl die ander na buite beweeg het. Die wagte het ’n harde geluid gehoor en die elektrisiteit het afgegaan. Ná ’n rukkie het die twee mans by die wagte ’n oproep ontvang en vertrek.
Die veiligheidswagte kon toe hulself losmaak en het die saak by die polisie aangemeld.
Een van die wagte het ’n besering aan sy knie opgedoen toe hy met ’n boutsnyer geslaan is.
Die substasie is naby die N1 wat omliggende plase voed. Die beraamde koste van die koperkabel is R200 000.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat tot die mans se inhegtenisname sal lei, om speurkonst. Setjhaba Sello op 071-774-1660 te kontak. Inligting kan ook deur die misdaadstopnommer by 08600-10111 of die MySAPS-App, gedeel word.