’n Kapenaar, so effens aan die maer kant, het Vrydag ná meer as vyf maande besluit om uit sy wegkruipplek te kom.
Dié slang, bes moontlik die een wat veroorsaak het dat die vlieënier Rudolf Erasmus op 3 April vanjaar ’n noodlanding in Welkom moes uitvoer, het die land behoorlik aan die praat gehad en selfs oorsee die nuus gehaal.
Chris Hobkirk, ’n slangkenner en direkteur van Lowveld Venom Suppliers, sê dit was Vrydag baie warm in Mbombela. Hy sê verskeie mense het gebel om te vra dat slange verwyder moet word.
“Dit was oproep nommer agt vir die dag en iemand is na die lughawe om ’n slang te vang.”
Hobkirk sê Marcus Riefler, ’n slangvanger, het hom gebel en gesê hy dink hy het ’n Kaapse kobra gevang.
“Ek het gedink daar is geen manier nie, maar toe ek die foto sien, het ek besef dit is inderdaad ’n Kaapse kobra.”
Hobkirk sê hy het skielik besef dat dit die slang moet wees wat maande vroeër saam met Erasmus uit Worcester gevlieg het.
“Ek het dit bymekaargesit en gekliek dit moet dié slang wees. Ek het vir hom gesê dit is daardie koperkapel, kobra, geelslang, noem hom wat jy wil, dit is daardie slang wat uit die vliegtuig gekom het!”
Hobkirk sê die slang het nie iets te ete gekry nie en hy is maer, maar is nou in goeie hande by Lowveld Venom Suppliers.
Hobkirk sê sy maatskappy verskaf slanggif aan ’n maatskappy wat teengif vervaardig.
Jaco Potgieter, eienaar van die Beechcraft Baron-vliegtuig, sê die vliegtuig word weekliks gebruik en dat daar elke nou en dan ’n spottery is oor die slang en wanneer hy gaan kop uitsteek.
Hy sê dit bly maar in ’n mens se agterkop dat die ongenooide gas dalk nog aan boord kan wees.
Erasmus is in April wêreldwyd geloof vir sy koelkop-optrede toe hy op ’n hoogte van ongeveer 9 000 voet noord van Welkom besef het daar is ’n slang saam met hom en sy passasiers aan boord.
Erasmus het die Sondag voor die vlug by medevlieëniers gehoor dat ’n slang op Worcester se lughawe by die vliegtuig gesien is.
Hy het geglo die slang het padgegee – totdat die reptiel tydens die vlug te voorskyn gekom het.
Erasmus het toestemming gekry om in Welkom te land, waar ’n slangvanger tevergeefs na die slang gesoek het.
Die vliegtuig is selfs gedeeltelik uitmekaar gehaal om na die verstekeling te soek.
’n Soektog in Mbombela het ook niks opgelewer nie.
Die vliegtuig is in Mbombela in die vliegtuigloods geparkeer wanneer dit nie in gebruik is nie.
Dié plek is teenaan waar Riefler Vrydag die slang gevang het.