Slagoffer van ontvoering geregtig op vergoeding

Een van die mans wat by die ontvoering van ’n mynbestuurder se vrou in 2018 betrokke was, is beveel om R30 000 in skadevergoeding aan haar te betaal.


Een van die mans wat by die ontvoering van ’n mynbestuurder se vrou in 2018 betrokke was, is beveel om R30 000 in skadevergoeding aan haar te betaal.

Die ontvoeringsaak teen Molefi Johannes Qosheka (45) is aanvanklik teruggetrek, maar die landdroshof in Welkom het nou beveel dat hy teen einde Julie die bedrag aan Botha moet betaal.

Qosheka was nie direk by die ontvoering betrokke nie, maar het dele van die goudstaaf wat as haar losprys geëis is, op ’n plaas gesmelt.

Op 12 Julie het hy in die hof verskyn op aanklagte van ontvoering, afpersing, die besit van onbewerkte edelmetale en geldwassery.

Drie ander ontvoerders moet op 31 Julie in die hof verskyn vir ’n verhoordatum.

Charmaine Botha (46) is op 7 November 2018 vroegoggend by haar werkplek in Welkom ontvoer.

Haar ontvoerders het geëis dat haar man, Johnny, twee goudstawe as losprys oorhandig. Johnny was die bestuurder van die Harmony Gold-mynmaatskappy se goudaanleg in Welkom.

Een goudstaaf is met Harmo­ny Gold se toestemming aan die ontvoerders oorhandig en Botha is dieselfde dag nog, ná ’n gyselaarsdrama van meer as 12 uur, vrygelaat.

’n Multi-dissiplinêre span bestaande uit lede van die Welkom-Valke se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad en toepaslike belanghebbendes het die beskuldigdes ná ’n drie dae lange opsporings-optrede in hegtenis geneem.

Die slagoffer se voertuig en ’n Nissan Tiida wat gebruik is om haar na die plek van aanhouding te vervoer, is teruggevind.

Sedertdien het die polisie en private sekuriteitsmaatskappye tien mans in verband met die ontvoering in hegtenis geneem.

Net die helfte van die goudstaaf is teruggevind.

Qosheka en vyf ander mans is nie vervolg nie op voorwaarde dat die vier ander vermeende ontvoerders skuld beken en aan Botha skadevergoeding van R1,9 miljoen sal betaal.

Volgens ’n ingeligde wat na aan die saak is, is daar besluit om ’n pleitooreenkoms met die mans aan te gaan omdat Botha erg getraumatiseer is en daar onsekerheid is of sy die spanning van ’n uitgerekte verhoor sou kon deurstaan.

Die mans moes Botha maandeliks betaal, maar hulle het egter nie by die ooreenkoms gehou nie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om hulle te vervolg.

You need to be Logged In to leave a comment.