Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Dit is in ’n gees van woede, teleurstelling en nyd dat ek hierdie brief skryf.
Vir die afgelope vyf maande het ons gemeenskap voortdurend klagtes deurgegee aan die burgemeester en die bestuur van die Matjhabeng-munisipaliteit oor die haglike omstandighede waarin Riebeeckstad se hoofstraat, Craiblaan, verkeer.
Menige keer was daar al amper noodlottige ongelukke, en dit is een van die gevaarlikste en besigste strate in Riebeeckstad. Die slaggate is oneindig groot en talle voertuie het al bande hier verloor. Craiblaan is in ’n ontsettende gehawende toestand.
Bestuurders van luukse motors ry asof dit hul pad is. Hulle pyl op jou af om die slaggate te vermy. Taxi’s ry net soos hulle wil. Ek het met my eie oë gesien hoe ’n taxi op twee skoolleerlinge afpyl wat op die sypaadjie stap. Dit kon een groot noodlottige ongeluk gewees het.
Hier ry bestuurders net soos hulle wil en hulle het geen saak met die mense wat op die sypaadjie loop nie.
Eerlikwaar, as die burgemeester en sy munisipale bestuur nie ’n plan gaan maak nie, voorsien ek dat hier groot ongelukke gaan plaasvind.
Miskien moet ek maar die premier van die Vrystaat versoek om so dringend moontlik te kom kyk hoe ons Goudvelders onder gevaarlike omstandighede en onverantwoordelike optrede gebuk gaan.
Groot asseblief, meneer die eerste burger en u munisipale bestuur, herstel hierdie pad so gou moontlik. Ons is letterlik, figuurlik en geestelik uitgeput vir die probleme wat by die dag vermeerder.
Daar is nie een enkele straat in Riebeeckstad wat nie slaggate en vrot waterpype het nie. Triljoene liters water gaan daagliks verlore en dit as gevolg van onkunde oor instandhouding. Die verskoning dat daar nie geld is nie, is al afgesaag.
Wanneer ek so om my kyk en al die luukse motors en paleise van huise sien, skiet my bloeddruk die hoogte in. Dit is ons belastingbetalers se geld wat vir al die luukshede betaal en beslis nie vir die instandhouding van belangrike toerusting nie.
Die gemoedere loop hoog in ons gemeenskappe, en dit kan tot grootskaalse ontwrigting lei. Ons is keelvol.