’n Jong skoonheid van Welkom het vier titels in die onlangse Vrystaat Mej. Tiener-kompetisie verower.
Joy Kraal (16), ’n leerling aan die Goudveld-Hoërskool, is as Mej. Liefdadigheid, Mej. Persoonlikheid, Mej. Debutante en ook Mej. Debutante van die jaar 2022 gekroon.
Joy het twee jaar gelede aan skoonheidskompetisies begin deelneem, maar Vrystaat Mej. Tiener 2022 is die grootse een tot dusver.
Joy hoop om nog as Mej. Tiener Suid-Afrika 2022 gekroon te word en daarna as Mej. Heelal Tiener 2023.
Haar ouers, Koos en Emily, ondersteun haar in haar drome.
“Ek beywer myself daarvoor om liefdadigheidswerk te doen en samel graag kos en klere vir minder bevoorregte en werklose mense in,” sê Joy.
“Veral skoolklere vir die kinders van werklose mense is my doel.
“Ek het tydens ’n onlangse projek Paaseiers vir die Sondagskoolkinders van die Assemblies of God-kerk in Welkom uitgedeel.”