’n Droom van die afgelope vyf jaar het werklikheid geword met die amptelike opening van die Welkom-Volkskool se veeldoelige kunsgras-netbalbane.
Die bane is Maandag (07/02) tydens ’n opelug-saalopening, waarop die skool en sy beheerliggaam teenwoordig was, in gebruik geneem.
Sover bekend is die gerief die enigste in sy soort by ’n laerskool in die Vrystaat.
“Hierdie sintetiese bane is uniek, en ’n verskeidenheid sportsoorte soos netbal, hokkie, tennis en krieket kan daarop beoefen word,” sê Henrico van Rooyen, skoolhoof.
Baie beplanning en navorsing is oor die afgelope vyf jaar gedoen, en die projek is twee jaar gelede volstoom aangepak.
“Die vorige bane het baie probleme veroorsaak weens grondverskuiwings wat oor die algemeen baie in die Goudveld voorkom. Hierdie unieke veld-oppervlak gaan die probleem oorkom.”
Hy sê die skool beskik nou oor bane en geriewe waarop die Volkie-gemeenskap trots is.
“Die projek sou nie suksesvol kon wees sonder die beheerliggaam, ouerkomitee en personeel wat oor die afgelope vyf jaar almal hard gewerk het om geld te genereer om die projek die lig te laat sien nie,” sê Van Rooyen.
Om die bane verder te vier, word ’n sosiale netbaldag op 18 Februarie gehou waarvoor ondernemings hul mans- en vrouespanne kan inskryf om die dag saam met die Volkies te geniet.
Bel die Welkom-Volkskool se kantoor by 057-352-5996 om spanne by Marisa Steyn in te skryf.