Skietgeveg tussen polisie en gewapende rowers

‘n Skietgeveg tussen die Bloemhof-polisie en vier gewapende rowers het uitgebreek ná ‘n gewapende roof by ‘n snoepie.


‘n Skietgeveg tussen die Bloemhof-polisie en vier gewapende rowers het uitgebreek ná ‘n gewapende roof by ‘n snoepie in Bloemhof. ‘n Onbekende bedrag kontant en selfone is geroof.

Op Woensdag (20/07) omstreeks 19:10 het ‘n 28-jarige sake-eienaar kliënte in haar snoepie bedien toe twee mans haar gekonfronteer het en haar van ‘n onbekende bedrag kontant beroof het. Sy is beveel om na die slaapkamer te gaan, waar nog twee mans vir haar gewag het.

Hulle het reeds haar man, wat op die vloer gelê het, gyselaar gehou. Die twee mans in die slaapkamer het vuurwapens op die egpaar gerig. Hulle sê die handwapens wat die oortreders gebruik het, het glo polisie-wapens opgehad.

Benewens die geld wat uit die kasregister gesteel is, het die mans ook ‘n lugtydmasjien, die slagoffers se beursies, hulle selfone en los kontant gesteel. Die vier verdagtes het te voet in die rigting van Bothaville gevlug. Die eienaar van die snoepie het hulle gevolg en gesien hoe hulle in ‘n wit Volkswagen Polo klim. Hy het die Bloemhof-polisie in kennis gestel. Die  voertuig is opgespoor. Die polisie en vier oortreders het op mekaar geskiet. 

Niemand is beseer nie en die verdagtes het die veld ingehardloop. Die 42-jarige bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem.

“Ná ‘n deeglike ondersoek is drie van die vlugtende verdagtes in hegtenis geneem. Die polisie het twee van die selfone by hulle gekry. Die voertuig is geskut,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die SAPD in Lejweleputswa.

Die polisiebeamptes wat die inhegtenisnemings moontlik gemaak het, is Sers.Sello Nkoane, Speur. Sers. Lukas Mojanaga, Sers. Stokvel Makhoana en konstabels William Fokwebe, Lesiba Kau, en Trinity Ndlovu van die Hoopstad-polisiestasie. Die Bloemhof-polisie het hulle bygestaan. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.