Solidariteit Helpende Hand se tweedehandse winkels – bekend as Ons Winkel – bring die gemeenskap bymekaar en daarmee saam skep hulle sommer “ewigheidswaarde” in die vorm van armoedeverligting en werkskepping.
Dié netwerk van liefdadigheidswinkels, of skenkingswinkels, bestaan uit 127 winkels waarvan Ons Winkel–Welkomnou deel vorm.
Daar word graag na die winkels verwys as ’n baken van hoop in die gemeenskap.
Die rede hiervoor is omdat die winkels goeie gehalte items verkoop teen bekostigbare pryse. Dit beteken dat enige persoon vir hulself items kan aanskaf, maak nie saak van jou inkomstegroep nie. Die organisasie se Ons Winkels-netwerk bied iets vir elkeen.
Elkeen van dié winkels ontvang skenkings van uit die gemeenskap. Dié skenking word geprys en dan weer aan die publiek verkoop.
“Hoekom word die skenking verkoop en nie net uitgedeel nie? Dit is ons as organisasie (Solidariteit Helpende Hand) se plig om seker te maak dat goed bedoelde skenkings nie verkeerd aangewend word nie.
“Daarom verkoop elke Ons Winkel die skenkings om op ’n indirekte en verantwoordelike wyse na die hulpbehoewende gemeenskap uit te reik,” sê Kobus Venter van Helpende Hande.
“Hoekom verkoop ons die skenkings? Maklik, want jou L-grootte trui sal nie vir ’n sewejarige kind pas nie, en dit sal ook nie vir hulle voedselbehoefte voorsiening maak nie, maar die kontant kan wel,” gaan hy voort.
’n Gedeelte van die wins van die verkope gaan vir studiefondse, wat studies dan moontlik maak vir studente wat andersins nie die geleentheid sou gehad het nie.
“Die fondse wat vanuit die winkels genereer word dra ook by tot verskeie gemeenskapsprojekte wat deur die Helpend Hand streeks-personeel in samewerking met HH- takke en vrywilligers uitgerol word.
“Die Ons Winkels dra nie alleenlik by tot studiefondse en gemeenskapsprojekte nie, die winkels skep ook werksgeleenthede vir die winkeleienaar en die werknemers wat in die winkels werk,” sê Venter.
Belangstellendes kan al hul besittings wat geen nut meer het nie vir Ons Winkel-Welkom skenk.
Van meubels, boeke, klere, linne, sporttoerusting, kombuisware, elektriese toebehore en enigiets anders wat in jou pad staan.
“Deur items te skenk wat jy nie meer gebruik nie, kan jy ons help om ’n verskil te maak in jou gemeenskap. Só skep jy hoop vir ’n beter toekoms,” sê hy.
Besoek gerus die Ons Winkel-Welkomby Bokstraat 64, of kontak gerus vir Justin Marnewick, winkeleienaar van hierdie tak, by 072-573-9190 vir meer inligting.