’n Verwoestende storm met stormsterk wind, hael so groot soos gholfballe en amper 70 mm reën in sommige plekke het op Maandag 21 Oktober in Matjhabeng chaos gesaai, soos dit deur die streek beweeg het.
Maandag net ná 11:00 het die wind opgetel en die hemelsluise oopgemaak. Flitsvloede is oor die streek by Virginia, Odendaalsrus, Thabong en Rheederpark beleef.
Donker wolke het laag oor die gebied afgesak en ’n storm het oor dié dorpe losgebars.
Binne enkele minute het inwoners begin alarm maak.
Raadslid René Steyn het die hulp van Matjhabeng se rampbestuur ingeroep om die ellende van die inwoners wat storm-en vloedskade in die streek beleef het, te evalueer.
“Veral Odendaalsrus, Virginia en wyk 25 is erg getref,” sê sy.
Die skade in die streek word op miljoene rande geraam en stormsterk water het deur baie huise gevloei, en buitemure en bome is meegesleur.
Marthie Kasselman sê hul plaas by Hennenman het swaar deurgeloop en hael wat soos sneeu gelyk het, het hulle tuine dik gelê en verwoes.
“Die reën en hael het verwoesting gesaai op die plaas Ventersvlakte van Sallie Buonadonna, net voor Hennenman. Bome is ontwortel, ruite is stukkend en dakke lek erg,” sê sy.
Oor die streek heen is groot, ou bome ontwortel en die weerlig het takke raakgeslaan, wat dan afgebreek het. Mure het omgeval en reënwater het deur honderde huise in die streek gevloei.
In Longweg, Welkom, het ’n palmboom begin brand nadat dit deur weerlig getref is en die brandweer moes dit blus, sê Trysie Smith, wat ’n video van die brandende boom aan Vista gestuur het.
By die Bundu Game Lodge buite Riebeeckstad is 69 mm reën binne 18 minute gemeet.
Magda Keyser van Riebeeckstad het op Facebook geskryf dat al 23 van haar roosbome kaal gestroop is. Sy het ’n video daarvan op Vista se Facebook-blad geplaas.
Lesers het op Facebook hul reënmeterlesings geplaas. Ná die storm se ergste woede het lesers in Flamingopark, Welkom, 50 mm se reënval gemeet en in St Helena is tussen 38 mm en 45 mm gemeet.
Die storm en reën het tot amper middernag in sommige plekke nog gerommel en oornag het nog tussen 8 mm en 10 mm reën in Welkom geval.
Lesers het op Vista se Facebook-blad kommentaar soos “goeie genade” en “sjoe dit was erg” geskryf.