Die polisie het tydens ’n padblokkade op geslagte bees-dele en verskeie slaggereedskap in twee voertuie wat hulle afgetrek het, afgekom.
’n Gesamentlike optrede is deur die polisie van Ventersburg, Hennenman en Virginia op die R30-pad gehou nadat inligting oor veediefstal by ’n plaas in die Senekal-distrik ontvang is.
Die optrede is op 8 Augustus omstreeks 03:00 in werking gestel.
Twee voertuie is voorgekeer, ’n silwer Audi met Gauteng-nommerplate en ’n rooi Volkwagen Polo met Vrystaatse nommerplate.
“ ’n Versoek is gerig om die voertuie te ondersoek en hulle het op stukke van een geslagte bees binne-in die twee voertuie gekry,” sê kapt. Stephen Thakeng, skakelbeampte vir die polisie in Lejweleputswa.
Sewe verdagtes is in hegtenis geneem. Daarna het die polisie ondersoek ingestel by ’n verlate plaashuis sowat 10 km vanaf Senekal in die rigting van Paul Roux. Geslagte bees-dele, asook nege lewendige beeste, is deur lede van die polisie se veediefstal-eenheid by die plaashuis gevind.
Die verdagtes het Maandag 12 Augustus in die Ventersburg-landdroshof verskyn. Die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies in Odendaalsrus ondersoek die saak.