Die Du Toit-gesin van Odendaalsrus se prestasies in spiesgooi en gewigstoot het die atletiekgemeenskap aan die gons.
Fanie (41), ’n meestersatleet van die Eskom-atletiekklub, se seuns volg in sy voetspore. Jan (18) is ’n lid van dieselfde klub, en Stephan (11), ’n leerling aan die Laerskool Odensia, is in sy skool se atletiekspan.
Fanie was in 1998 lid van die jeugspan wat Suid-Afrika op die wêreldbyeenkoms in Sjanghai, China, verteenwoordig het. Hier het hy ’n vierde plek in spiesgooi behaal.
In 2000 het hy sy beste afstand van 73,16 m bereik, en boonop op die Suid-Afrikaanse byeenkoms ’n goue medalje in dié nommer gewen.
Deesdae rig Fanie jong en ontluikende atlete af. Vanjaar het hy 17 atlete se vaardighede in spiesgooi, gewigstoot en diskusgooi geslyp. Al 17 het aan die Noord-Vrystaatse byeenkoms deelgeneem. Altesaam 14 het op die Vrystaatse byeenkoms meegeding, en agt het na die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms deurgedring.
“Oorwinning is om jou beste te doen,” sê hy.
“As jy jou beste gedoen het, het jy gewen.”
Fanie rig ook sy eie seuns af.
Sy oudste, Jan, is die Vrystaat se spiesgooikampioen vir mans o.20. Hy was een van min Suid-Afrikaners wat die kans gegun is om op die Grand Prix-byeenkoms teen internasionale atlete kragte te meet. Op dié byeenkoms, wat op 6 April in Bloemfontein aangebied is, het hy ’n derde plek losgeslaan.
Boonop kon hy twee van sy atletiekhelde – Jan Zelezny, wêreldrekordhouer in spiesgooi, en Shaun Bownes, Suid-Afrikaanse hekkieskampioen – te sien kry.
“Jou talent is God se geskenk aan jou. Wat jy daarmee doen, is jou geskenk aan God,” sê Jan.
“My doel is om een van Suid-Afrika se beste spiesgooiers te word.”
Kleinboet Stephan het vanjaar sy atletiekloopbaan begin.
Op die Vrystaatse kampioenskapsbyeenkoms het hy sy beste afstand van 9,50 m in gewigstoot behaal en ’n bronsmedalje losgeslaan. Boonop het hy die derde plek op die Suid-Afrikaanse byeenkoms vir laerskoolatlete verwerf.
Sy grootste prestasie was egter om sy Vrystaat-kleure te verwerf.