Ek het ’n snaakse storie gehoor van ’n man wat een aand sy sleutels verloor het en besig was om dit te soek onder die straatlig voor sy huis.
Daar kom toe ’n ander man verby en help hom soek. Ná ’n rukkie vra die verbyganger: “Waar presies het jy jou sleutels verloor, want as ons dit weet sal dit makliker wees om dit te kry.”
Sonder om te aarsel antwoord die man wat sy sleutels verloor het: “Ek het my sleutels in die huis verloor!” Verbaas vra die verbyganger: “Waarom soek ons dan hier buite?” Antwoord die ander man: “Want hier buite is meer lig!”
Jy besef seker hierdie storie is effens absurd. Wie sal so vreemd wees om dit te doen?
Ons soek ook baie keer wat ons nodig het op verkeerde plekke. Ons soek hoop, geluk en liefde op al die verkeerde plekke.
Ons dink ons omstandighede, ons omgewing, ons werk of ons vriende moet vir ons geluk bring, maar om die lewe werklik te geniet, moet jy altyd by God begin.
Psalm 66:5 nooi ons uit: Kom kyk na wat die Here gedoen het. Kom luister na wat Hy vir mense gedoen het. Dit is die beginpunt van jou soektog na hoop, liefde en geluk.
Efesiërs 1:3 sê: Deur Jesus het God ons geseën met elke geestelike seën wat daar in die hemel is; Filippense 4:19 sê: Omdat Jesus dit verdien het, sal God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.
Die probleem met hoop, geluk en liefde is dat ons meestal kyk na wat ons verloor het, sonder om te kyk wat ons nog het.
Ons dink toe alles nog goedkoper was, toe ek nog gewerk het, toe ek jonger was, op skool was, toe ek nog baie vriende gehad het, toe ons omgewing mooier was, was ek gelukkiger.
Moet nie toelaat dat wat jy nie meer het nie, jou geluk bepaal nie.
Moet nie kyk na wat jy verloor het nie; kyk liewer na wat jy oor het.
Die Here belowe in Psalm 27:10: Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou. Ek wonder hoe sal ons lewens verander as ons elke dag net kan raaksien wat God ons gee.
Ek was so rukkie gelede in ’n groot winkel toe hulle besig was met voorraadopname en ek het my verstom hoe hulle letterlik alles tel op die rakke, niks word oorgeslaan nie.
Dit is dalk ’n goeie idee dat jy ’n voorraadopname doen van jou eie lewe, en dat jy elke seëning uit God se hand in jou lewe tel en aanteken.
Dit behoort jou kop op te lig, sodat jy makliker kan leef in die chaos rondom ons. Jy het nie goeie omstandighede of baie geld nodig om gelukkig te wees nie.
- Psalm 16:11 sê in die Here se teenwoordigheid is vreugde. Daar is niks wat iemand groter blydskap en hoop kan gee nie.Ds. Peet Louw is van die NG Erfdeel-gemeente, Riebeeckstad.