In
Mei vanjaar het Schalk Bezuidenhout vir die eerste keer ’n eenmanvertoning na
die Ernest Oppenheimerskouburg in Welkom gebring.
Hy het dit só geniet om Voksbesit
vir Welkom se gehore te doen dat hy op Woensdag 26 September terugkeer na dié
teater met sy splinternuwe eenmanvertoning Snorseun.
Hierdie vertoning in Welkom is
ook die begin van Schalk se Snorseun-toer deur Sentraal Suid-Afrika, met
vertonings wat gaan volg in Potchefstroom, Bloemfontein en Klerksdorp.
Schalk is tans besig om in
Pretoria te skiet aan die derde seisoen van die gewilde kykNET-reeks Hotel,
waar hy die rol van die geliefde Danny vertolk. Hy sien baie uit daarna om
Welkom weer te besoek.
“Baie
aanhangers van stand-up komedie in Welkom en die omliggende dorpe het my nog
nie sien optree nie,” sê Schalk.
“As jy Voksbesit in Welkom gesien
het, sal jy Snorseun selfs meer geniet, want dit is beslis my snaaksste
eenmanvertoning sover. En as jy nie by my vertoning in Mei uitgekom het nie, is
hierdie nou jou kans. Ek voel altyd welkom in Welkom en wil graag vir die mense
lekker laat lag op ’n Woensdagaand,” sê Schalk.
Teatergangers kan uitsien na die
snorseun op sy beste, met nuwe materiaal, vlymskerp waarnemings en sosiale
kommentaar oor die lewe en die land waarin ons leef. Snorseun sal baie reaksies
by jou uitlok, waarvan lag sommer lag-lag die grootste is.
Die vertoning begin om 20:00 en
kaartjies kos R120 per persoon. Bespreek by Computicket of bespreek by die
deur.Meer oor Schalk: Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met sy
kenmerkende truitjies en skerp tong, is die mees opwindende nuwe stem in Suid-Afrikaanse
stand-up.
Sedert
hierdie boorling van Kempton Park in 2015 (en weer 2017) in Trevor Noah se
voorprogram opgetree het en ‘n solo-vertoning op Comedy Central uitgesaai is,
het hy vinnig ‘n huishoudelike naam geraak. Hy het ook reeds twee Comics Choice-toekennings
en ’n gesogte SAFTA ingepalm.
Schalk
is deesdae ‘n bekende gesig op televisie, veral in die rol van die geliefde
Danny in die kykNET-reeks Hotel en as anker van die satiriese nuusprogram Die
Ware Naarheid met Schalk Bezuidenhout, ook op kykNET.