Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het op 21 September weer die SAPD gehelp om kabeldiewe, waaronder Eskom-kontrakteurs, in twee afsonderlike voorvalle vas te trek.
In die eerste voorval wou ’n verdagte koperkabels aan ’n skrootwerf verkoop. Die polisie en die buurtwag is gekontak en die verdagte is dadelik in hegtenis geneem.
In die tweede voorval, slegs ’n paar uur later, wou twee verdagtes koperkabels aan ’n ander skrootwerf verkoop. Weer eens is die polisie en buurtwag gekontak en twee verdagtes is in hegtenis geneem. Tydens ondervraging is vasgestel dat die verdagtes kontrakteurs by Eskom is en dat die kabels Eskom-eiendom is.
Die Bothaville-buurtwag was die afgelope twee maande betrokke by die inhegtenisneming van twaalf verdagtes wat koperkabels gesteel het.
“Hierdie buurtwag gaan werklik van krag tot krag. Die samewerking tussen die SAPD, die buurtwag en die skrootwerwe maak dit vir die kabeldiewe baie moeilik. Groot dank aan die buurtwag,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.