Hoewel enige besteding aan rioolinfrastruktuur in die Matjhabeng-munisipaliteit verwelkom word, is die bekommernis daar dat Welkom aan die agterspeen suig.
In antwoord op ’n vraag van die VF Plus op Woensdag 21 Augustus, het die minister van Water en Sanitasie, mev. Pemmy Majodina, aangedui dat haar departement R1.6 miljard bewillig het om sanitasieprobleme in Matjhabeng aan te spreek. Hierdie bedrag is beduidend meer as die R425 miljoen wat die vorige minister, Senzo Mchunu, in November 2022 tydens sy besoek aan die munisipaliteit aangekondig het.
Volgens Majodina se antwoord sal die meerderheid van hierdie geld egter in Thabong aangewend word. “Ons glo dat Welkom se sanitasieprobleme ewe veel aandag moet kry, veral in gebiede soos die Goldfields Mall, Koppie Alleenweg, en Constantia, waar riool al vir maande in die strate vloei. Welkom is die hoofstad van die munisipaliteit en het die meeste sakelui en inwoners, wat ’n groot deel van Matjhabeng se inkomste verseker deur hul munisipale bydraes,” sê Stephan Pienaar, VF Plus-raadslid in Matjhabeng.
Hy sê volgens die minister se antwoord het die werklike uitgawe aan ingrypings teen die einde van Julie 2024 R679 miljoen beloop. Dit behels onder meer uitgawes aan konstruksie, professionele fooie en noodherstelwerk.