Die liturgiese kerkjaar het weer Sondag 15 Junie verander. Dit was Triniteitsondag, waar ons gedagtes en aanbidding gefokus was op die Drie-enige God, Sy wee en wandel saam met ons Sy kinders en hoe ons eties en regverdig saam met Hom, ons medemens en die skepping moet leef. Die kern vraag van ons elkeen se geloofsreis, hoe leef ons eties en regverdig saam met God?
Na 1 700 jaar van ons belydenis en getuienis van wie God vir ons is, 160 jaar van ons saam probeer om lig te wees in die duisternis, afwagtend op die vraag van die Here – Mensekind, sal hierdie beendere leef ?
Dalk help die Skrif ons. sal ons weer lees, maar dié keer, fyn lees na wat God se Woord vir ons wys?
Numeri 9 (15 -19) gee dalk vir ons ‘n antwoord. Wanneer die wolk ‘n lang tyd bo die tabernakel was, het die Israeliete die verpligtinge teenoor die Here nagekom en nie kamp opgebreek nie. Hoe leef ons eties en regverdig saam met God, ons medemens en die skepping? Deur die Woord van die Here te lees en dit na te kom, want die Here se teenwoordigheid het nie geskuif as Israel die verpligtinge nagekom het van die Here nie. Solank as wat hulle eties en regverdig geleef het saam met God, mens en skepping, God se Woord onderhou en in nederigheid en in liefde met mekaar en die skepping omgaan was God se teenwoordigheid met hulle.
Die Here se teenwoordigheid het by hulle gebly, maar as hulle nie die Woord van die Here onderhou het nie, nie meer in liefde en nederigheid geleef het nie, nie meer welwillend met mekaar was nie, slegs dan het die wolk geskuif, en het die Here se teenwoordigheid weg beweeg.
Dan begin die soektog weer, weer na die balans in ons geloofslewe saam met God, maar ook saam met mekaar.
Ongelukkig gaan die wolk nie verewig bokant ons bly staan nie. Elkeen van ons is swak en sondig, en iewers gaan ons nie altyd die wet van die Here nakom nie, iewers gaan ons oortree en nie eties en regverdig leef nie.
Maar as die Here se teenwoordigheid dan sou skuif, moet ons nie vasgevange bly in ons ellende nie! Ons kan nie maar net aangaan om nie welwillend te leef en te hoop dat God se goedheid en guns weer sal terugkom na ons toe nie. Ons sal moet maak soos ou Israel, ons sal moet skuif.
Dalk nie fisies van streek of provinsie nie, wat nog gepraat van dié wat gevlug het na die VSA. Maar ‘n kopskuif. Ons sal moet kamp opslaan by God, by Sy wil vir ons lewens, soekend na Sy waarheid, Sy wysheid en Sy lig vir ons lewens. Ons moet ons gedagtes en harte so skuif sodat ons daar sal wees waar die Gees van God ons lei. Dit help nie ons bly vasgevang in ons ellende en foute nie. Die Drie-enige God roep ons om Hom te volg. Want die liewe Heer bring ons dan weer op ‘n nuwe stuk grond, weg van my vorige sondige self, weg van my verlede en gee my ‘n nuwe kans. dit net regkry as die Here daar saam met ons deur Sy Gees is, om ons daagliks te versterk, daagliks te bemoedig en te lei. As ons dan weer daarin sou vaal, lei die Here ons met Sy Gees na ‘n nuwe pad om weer te probeer. Die Here skuif nie Sy teenwoordigheid weg om ons in ons ellende en sonde te oordeel nie maar omdat Hy vir ons ‘n nuwe weg baan om weer te probeer, om weer tot Hom te nader en weer Sy woord te onderhou.