’n Motoris van Bronville is deur twee gewapende mans oorrompel, en sy selfoon en kontant gesteel, nadat hy vir hulle ’n saamrygeleentheid gegee het.
Die Bronviller het die twee mans op 25 Augustus omstreeks 19:20 opgelaai. Hulle het ’n vuurwapen op hom gerig, en hy het hom verset. Die wapen het op die vloer van die voertuig geval. Een van die aanvallers het dit opgetel, dit oorgehaal en op hom gerig, sê kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in Lejweleputswa.
Die twee verdagtes het die motor deursoek en ’n Samsung-selfoon en R300 kontant gekry.
Lede van die gemeenskap wat die worsteling gesien het, het tussenbeide getree en een van die verdagtes vasgetrek. Die geroofde artikels en die vuurwapen is in die besit van die tweede verdagte, wat nog op vrye voet is.
Die distrikskommissaris van Lejweleputswa, genl. maj. Lerato Molale, het inwoners geloof vir die gemeenskapsares en dat hulle die verdagte daarna aan die polisie se toesig oorgelaat het. Die verdagte bly in hegtenis.