Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Dis met ’n gees van hartseer en teleurstelling dat ek hierdie brief skryf.
Ek het ’n glansgeselligheid vir vroue in die Ferdie Meyer-saal in Welkom bygewoon.
Toe ek by die ingang instap, kon ek nie glo wat ek sien nie. Die eens gewilde en beeldskone saal is werklik ’n onooglikheid. Die ingangsportaal se vloere het beslis sy sjarme, elegansie en warm atmosfeer verloor; baie agteruitgegaan.
Geen sekuriteit- of ontvangsbeamptes was by die ingang nie. Toe ek met die trappe opstap na die saal kon ek die vernielde matte met die blote oog sien.
Hierdie matte moet beslis vervang word. Die houtreëling was taai en ek het skoon gegril.
Met my aankoms in die saal is ek verwelkom met kleurvolle en pragtige gedekte tafels. Toe ek by my tafel gaan sit, het my moed in my skoene gesak.
Die eens peperduur en pragtige gordyne is nie meer daar nie. Ek was geskok toe ek sien hoe hierdie formele en eksklusiewe saal verwaarloos het.
Dis hartverskeurend. Die trane het behoorlik bollemakiesie oor my wange geslaan.
Die badkamers op die grondvloer is in ’n gehawende toestand. Van die toiletdeure kan nie toe nie en die toilette is nie op peil nie. Daar is geen toiletpapier of handewasseep nie. Dit wil voorkom asof daar geen beheer gehou word van wie die geriewe gebruik nie.
Die Oppenheimer-teater se instandhouding is uiters swak. Ons smag na goeie vertonings. Alles het agteruitgegaan en ons kry nie antwoorde nie. Ek glo en vertrou dat ons eerste burger en die bestuur van Matjhabeng dringend aandag aan my klagtes sal skenk.