Patrick Styles by die kruis waarmee hy oor Suid-Afrika heen stap om Jesus se naam te verkondig. Foto: Marti Will


Patrick Styles trek al deur die loop van nege jaar ’n houtkruis wat 65 kg weeg oor Suid-Afrika heen om die naam van Jesus uit te dra.

Styles het in 2009 sy lewe vir die Here gegee.

“Sowat ’n jaar later het ek ’n duidelike boodskap van die Here ontvang: Ek moet my kruis opneem en loop. En dit het ek gedoen,” sê hy.

Styles is van Koster en bring net sowat drie maande van die jaar by die huis deur.

Hy het al verskeie kere in die afgelope nege jaar deur Welkom gereis. Een van sy drie seuns is ’n besigheidsman in Virginia, en Styles het 17 jaar lank op die Steyn-goudmyn in Welkom gewerk voordat hy na Rustenberg is. Met sy aftrede het hy na Koster verhuis.

Sy boodskap is: “Kom ons praat oor Jesus”. Terwyl hy loop, stop mense hom en vra waaroor die staptog gaan.

“Wanneer mense my stop en uitvra, draai die gesprek altyd na Jesus – en dan praat ek oor Hom.”

Styles het al duisende kilometers oor Suid-Afrika heen gestap en oral waar hy gaan, ervaar hy die goedheid van mense.

You need to be Logged In to leave a comment.