Tené was vier jaar oud toe die kleuterskool agterkom dat sy “anders” is.

“Hulle het nie geweet presies wat nie, en ek het nooit eens gedink dat sy outisme het nie.

“Outisme het sekere kenmerke, en ek kon nooit van dié kenmerke by Tené bespeur nie,” sê Thelma Martin, Tené se ma.

Martin sê as sy nou terugdink, was daar definitief tekens wat sy gemis het.

Tené is op ses jaar met Asperger-sindroom gediagnoseer, wat intussen ingesluit is op wat genoem word die spektrum van outisme. Sy is nou ’n gr. 7-leerling aan die Welkom-Volkskool.

“Ek dink as daar iets is wat ek vir ouers wil sê, is dit dat geen kind dieselfde as ’n ander is nie. Nie alles wat vir een kind werk, gaan vir almal werk nie,” sê Martin.

“Waarvan ek wel seker is, is dat perdry my kind se lewe verander het.”

Tené het nooit baie interaksie met mense gehad nie.

“Sy wou byvoorbeeld saam met maatjies speel, maar het nie geweet hoe en wat om te sê en doen nie.”

Sy het baie opgekropte emosies gehad waaraan sy nie uiting kon gee nie.

Martin sê sy sal nooit die eerste keer dat Tené gaan perdry het, vergeet nie. Sy het glad nie gereageer op die instrukteur se bevele nie en het die arbeids­terapeut uit die arena gejaag.

Haar instrukteur, Belinda Basson, het egter geduld en sy het sag met Tené gewerk en haar heeltyd gerusgestel.

Vandag is Tené ’n lewenslustige tiener wat daarna uitsien om tyd saam met haar nuwe perd, Slick Deputy, deur te bring.

Tené neem deel aan die South African National Equestrian Schools Association (Sanesa) se streekkampioenskap. Sy is die afgelope vier jaar in die Vrystaat-span ingesluit en het verlede jaar twee goue medaljes in die nasionale kampioenskap gewen.

Tené is aktief betrokke by Slick Deputy, wie se bynaam Sady is, se afrigting.

Sady was ’n resiesperd, wat die afgelope paar jaar net as teelmerrie gebruik is.


Sady
se oupagrootjie was Secretariat, waarvan daar ’n rolprent gemaak is. Dít is ook waar die naam van die ruiterdrag Ariat vandaan kom.

“Tené is baie trots daarop,” sê Martin.

Sy sê dit is moeilik om in woorde te beskryf wat perdry vir Tené beteken.

“Perdry leer ’n mens lewenslesse. Dit leer jou om aan te hou oefen al is jy moeg. Dit leer deursettingsvermoë, dit leer dissipline, dit maak ’n mens gefokus om iets te bereik en toegewyd aan die dier en die sportsoort.”

Tené raak nie mismoedig wanneer sy uitdagings in perdry teëkom nie, maar weet sy gaan moet teruggaan en harder werk. Wanneer sy wel wen, is sy nederig dankbaar en trots.

Perdry het haar geleer om met ander mense te kommunikeer. Baie mense is verbaas wanneer hulle hoor Tené is outisties. Perdry het haar geleer om ook ’n goeie maat te wees.

Deur haar deelname aan perdry het sy geleer om teleurstelling te verwerk, want soms kry sy nie die prys waarvoor sy gewerk het nie.

Sy gee nooit op nie. Dit maak haar vasberade om harder te werk vir wat sy wil bereik.

Sy weet dat ’n mens nie oornag ’n kampioen word nie en dat sy dalk harder as ander moet werk en langer moet wag vir haar suksesse.

Tené het geleer om trots te wees op klein vorme van vordering wat sy maak, en sy weet elke tree is ’n stap nader aan haar langtermyndoelwitte.

Tené droom daarvan om eendag met perde te werk. Sy wil perde teel vir kinders wat probleme ervaar met selfbeeld, selfvertroue, depressie, angs, stres, emosionele bewustheid, sosiale vaardighede, impulsbeheer, vertroue, empatie, probleemoplossing, aandagafleibaarheid, outisme en soveel meer.

“My kind het lewenslange vriendskappe gesmee. Sy maak elke dag herinneringe en ek is so trots op die jong dame waarin sy ontwikkel het.

“My raad is: Laat jou kind perdry, so gereeld as moontlik. Dit is ’n ware belegging in jou kind se lewe,” sê Martin.

Ek dink as daar iets is wat ek vir ouers wil sê, is dit dat geen kind dieselfde as ’n ander is nie. Nie alles wat vir een kind werk, gaan vir almal werk nie. – Thelma Martin

You need to be Logged In to leave a comment.