Die jong rugbyspeler wat ernstige beserings in ’n ligarugbywedstryd opgedoen het, is oorlede.
Jaco Weideman (21) is Vrydag (08/07) in die Mediclinic Bloemfontein oorlede nadat hy die vorige Sondag in ’n kritieke toestand van Welkom oorgeplaas is.
Sy hart het op Saterdag 2 Julie verskeie kere gaan staan nadat hy in ’n liga-wedstryd tussen die spanne van die Welkom-rugbyklub (WRK) en die Rovers-rugbyklub moontlik in ’n duikslag beseer is.
Dit was die jaarlikse derby tussen die twee rugbyklubs, en Weideman het vir die WRK gespeel.
Sy alma mater, die Goudveld-Hoërskool, skryf op Facebook dat die hele Goutie-familie baie hartseer is oor die afsterwe van Jaco Weideman, oud-Goutie.
“Ons opregte simpatie met Wimpie, Marco, familie en vriende. Mag ons almal in hierdie moeilike tyd vertroosting vind in die Here se liefde en in Sy wil vir elkeen van ons.”
’n Oud-onderwyser van Jaco, Sam Viljoen, skryf: “As onderwyser is dit nooit maklik om hartseer nuus te hoor oor diegene vir wie jy skool gegee het nie. Jaco Weideman jy was ’n regte vegter, het altyd harder gewerk as die meeste. Ek is hartseer om hierdie nuus te hoor, maar ek is net so dankbaar om te weet dat jy verwelkom word op groot stalletjies van die hemel. Geniet dit, totdat ons weer kampioen ontmoet”.
Sy gedenkdiens is Vrydag (15/07) om 11:00 in die NG kerk Erfdeel Riebeeckstad.