Rugbyliefhebbers het nou ’n kans om hul kennis op ’n splinternuwe TV-vasvraprogram te toets.
Met die 2023 Rugbywêreldbeker-toernooi net om die draai, bied kykNET rugbyliefhebbers die geleentheid om in te skryf vir ’n kans om deel te neem aan die splinternuwe rugbyvasvraprogram, Koppestamp.
Man of vrou, oud of jonk, voor- of agterspeler of net ’n entoesiastiese toeskouer – almal is welkom om in dié dinkskrum te kom sak en in elke episode fantastiese pryse te wen.
Koppestamp is ’n trots Suid-Afrikaanse rugbyspeletjiesprogram in ’n oorspronklike, nuwe formaat. Die twee aanbieders, Adrian Steyn en Deoudoné van der Merwe, is slaggereed om kykers met ’n naelbytstryd op die punte van hul stoele te hou.
Twee spanne van twee gaan mekaar die stryd aansê en probeer punte aanteken met die klok wat genadeloos tik. Koppestamp is, nes rugby, ’n spansport. Jy en jou beste vriend of buurman, nuwe geliefde of ou vlam, is welkom om in te skryf vir hierdie groot toets.
Kykers het Adrian Steyn deur rolle in kykNET-programme soos Binnelanders, Knapsekêrels en Getroud met rugby leer ken. Sy mede-aanbieder, Deoudoné van der Merwe, het bekendheid verwerf as Stella – die fiktiewe hoofkarakter in kykNET se mondigwordingsveldtog gedurende 2020.
“Ons sien uit daarna om iets werklik vars en vermaaklik aan kykNET-kykers in die aanloop tot die Rugbywêreldbeker later vanjaar te bied,” sê Christel Sampson, vervaardiger van die reeks. “Watter lekkerder manier kan daar wees om ons nasie se gunstelingsport te vier as met ’n blitsvinnige, aksiebelaaide speletjiesprogram?”
Koppestamp beloof skaterlag, groot sports en ’n verskeidenheid aantreklike, weeklikse pryse vir deelnemers én kykers by die huis om te wen.
Hou ’n spanpraatjie en warm op vir dié Springbok van ’n speletjiesprogram wat ondersteuners reg oor die land heen se kennis en vaardighede oor 13 episodes gaan toets om te bepaal wie die grootste rugbykenner van almal is.
Skryf in op die webwerf kyknet.tv om in te skryf. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Maart 2023.